Sê en doen

Lees Jakobus 2:1-13.

Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel (v 13).

Bybellesers ken reeds dié verstommende uitspraak van een van die apostels: “Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, die liefde bedek baie sondes” (1 Pet 4:8). En wie kan Paulus se jubeling vergeet dat die liefde álles bedek? (1 Kor 13:7). Nou is hier nog een: Barmhartigheid is ’n belangrike roete na God se genade.

Liefde en barmhartigheid. Leef só, en jy word oorgesien. Kan dit wees? Is jou goeie werke dan tóg jou paspoort tot saligheid?

Luister jy aandagtig na Jakobus, hoor jy hoe skerp hy oordeel oor mense wie se uitgesproke geloof nie bevestig word deur dade wat daarby pas nie. Hoe hy waarsku teen lippetaal wat goedkoop en maklik kom, maar nie ewe fluks deur gewillige hande gevolg word nie. Hoe hy die logika daarvan bevraagteken én die eerlik­heid daaragter. Hoe hy waarsku teen God se oordeel daaroor.

Dalk onthou jy nou ook Jesus se ernstige vermaning: “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader” (Matt 7:21).

Sê en doen. Twee klein woordjies, ’n wêreld se verskil. Of, beter gesê, ’n hemelse verskil.

Nee, nee, jou liefde en barmhartigheid gee jou geen vrypas na enige ander plek nie as na die dankbare hart van ’n weerlose me­demens. En, dit weet ons mos, weerloses is God se witbroodjies. Maak dus jou eie afleidings …

Of, wag, jy hoef nie eens self hieroor te dink nie. Gaan lees bloot wat skryf hulle wat saam met Jesus geleef het, hulle wat Hom gehoor en in aksie gesien het.

Neem my hande, Heer, maak hul sterk. Diensbaar in u goeie werk.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: