Skoonmaak

Lees Psalm 51:1-17.

Skep vir my ’n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig (v 12).

Dit is seker een van die redes waarom God as “Vader” aangespreek word – omdat Hy agter sy kinders opruim. Omdat sy morsige kinders dit trouens van Hom verwag en dit dikwels van Hom vra.

Kyk nou vir Dawid: Hy maak op groot skaal droog; hy onteer ’n weerlose vrou; hy sorg dat haar man vermoor word. Hy, van alle mense, wat ook “die man na God se hart” genoem word. Sy Vader se hart se punt.

Maar toe hy betrap word dat hy eintlik bloot sy eie hart en dié se begeertes en luste gehoorsaam, breek daardie hart in stukke. Hy gaan lê voor die Here en vra sonder skroom: Ruim asseblief agter my op!

Gaan kyk maar hoe Dawid opeenvolgend in hierdie omvang­ryke skuldbelydenis vra: neem weg; was my; laat my; wis uit; skep vir my; vernuwe; maak my; red my; gee my.

Hy sê in soveel woorde dat hy niks hiervan self kan doen nie. Dit is nie valse beskeidenheid nie, nee. Hy het reeds die omvang van sy misdade besef en erken. En hy kom nie daarvan weg nie. “Ja … van my sonde bly ek altyd bewus” (v 5).

Vasgevang pleit hy dus: Verlos my! Dit is al hoop wat hy het: om hom te beroep op die Een wat hom ’n nuwe kans sal gee. Wat van voor af met hom sal begin. Ja, met hom, van alle mense. En ter wille van hom. Ten spyte van alles.

Ek ken U as die God wat besmeerdes skoon was, wat reddeloses red. Hier is ek ook, Here, vuil en bemors. Skaam.

Barend Vos