Soeker

Lees Genesis 3:8-15.

Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?” (v 9).

Die lewe is dikwels hard: Een misstap, en jy betaal die prys daar­voor. Dalk, en dalk nié, kry jy ’n tweede kans. ’n Derde kans is ongehoord.

Gelowiges wil graag glo dat hulle ’n God-van-tweede-kanse aanbid. Hulle reken op ’n Here wat hulle nie wegstamp as hulle skeefgetrap het nie. Hulle vermoed dat God nie soos die lewe is nie. Die lewe is mos regverdig (boontjie kry sy loontjie, wat jy saai sal jy maai), maar God is genadig (aan sy liefde is daar geen einde nie).

Die eerste aanduiding wat dié gelowiges kry dat hul Here inder­daad anders is as die wêreld waarin hulle grootword en die lewe waaraan hulle gewoond is en die mense waarmee hulle elke dag te doen het, is in hierdie oerverhaal opgesluit. Ja, sommer op die Bybel se eerste bladsye hoor ons die Gans Ander stem waarmee God praat. Waarmee Hy na sy wegkruipkind soek.

Deur die eeue heen het God se kinders vir Hom probeer weg­kruip. Sommige wou in ’n donker hoekie die dinge doen wat hulle weet nie sy goedkeuring sou wegdra nie. Ander het dit reeds ge­doen, en toe gaan wegkruip. Hulle almal koester die illusie dat Hy dalk nie weet nie en hopelik nie sal belangstel nie.

Hulle is verkeerd. Hy weet. Hy stel belang. Hy huil oor hul wanbegrip van wie en wat Hy is. Daarom kom soek Hy hulle om hulle reg te help. Om hulle terug te dra. Om agter hulle op te ruim en van die slegte saak iets beters te maak.

Hier is ek, Here! Kyk, ek staan oop en bloot voor U. Ek is só bang U is so kwaad dat U my nie kom soek nie …

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: