Lees Psalm 119:121-128.
Ek smag na die bevryding wat U bring, na u woord wat my red (v 123).
Here, ek het geen ander keuse nie as om my te beroep
op u beloofde seën vir dié wat weet hoe afhanklik hulle
van U is. Dit maak my soms skaam om dit só te sê.
Vir ander mense klink dit dalk hipervroom
en grens dit waarskynlik aan skynheiligheid.
Maar dat dit die heilige waarheid is, kan U maar weet.
Ek het lankal aan myself erken: Sonder U kán ek nie.
Ag, en U weet tog hoe my gebede dit verklap;
’n formule wat berus op herhaling ná herhaling:
Maak só, asseblief;
doen dít;
ek smeek U;
net nog één keer, Here!
Dan dié skaamtelose verwoording van my getrouheid:
“Ek is u dienaar …”
Is ek, Here?
Is ek nie maar net ’n gretige ontvanger van u goeie gawes nie?
Vlugteling voor my vyande; verwese wegkruiper agter u rug?
Het my soort afhanklikheid ooit meriete?
Is dit nie bloot benoude spronge tot selfbehoud nie?
Dit kan sekerlik so wees; U ken my goed genoeg om te weet.
Maar U weet ook dat u woord nog altyd my enigste troos was.
Dat ek regtig daarvoor ontsag het. Dat ek my juis daardeur
laat reghelp. En dat ek nog nooit onwillig was om die gebaande
weë te verlaat en op u woord ’n nuwe koers te kies nie.
Nee, Here, ek weet genoeg van myself
om verseker te wees van my afhanklikheid.
Sonder U kán ek nie.
Want u oor is my adres;
u arms my enigste blyplek.
U woord is die gordyn
voor al my nood en vrees.
Amen.
Barend Vos