Lees Psalm 104:19-30.
U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het, en tog, U het alles in wysheid geskep (v 24).
Here, die natuur is soveel meer as bloot
u bewonderenswaardige skepping.
Ons sien wat ons sien, hoor wat ons hoor
en slaan ons hande saam. Soms gee ons selfs applous
en sing: “Grote God, u skepperhand
word verheerlik deur u werke …”
Vir ons wat net ’n brokkie van hierdie werke sien
en regtig nie veel daarvan weet of verstaan nie,
lyk dit boonop kompleet asof U daarmee speel …
Die helder bal wat U vroegoggend boontoe skop
en skemertyd met die afkomslag vang en vir eers bêre.
Die klein ballon waarmee U elke maand dié speletjie speel:
Blaas dit bietjie vir bietjie op
totdat dit groot en geel teen u hemel styg –
’n maklike teiken vir ’n storie,
die onmiskenbare teken vir ’n fees.
U troetel u diere met aandag en kos;
U maak u hand vir hulle oop en streel
hulle oor die kop, kielie onder hul maag.
U speel met hulle in die water.
U bou kastele op die sand
en tussendeur sommer ’n kerk op ’n rots.
Haai, Here! As óns werk U net naastenby
soveel vreugde sou gee
soos die blye bevrediging
wat U so opsigtelik uit u handewerk put …
Kyk dan nou vir ons: Ons staan vroeg op, maak gou gereed,
gaan uit. Ons keer weer laat terug, eet net vinnig, gaan slaap.
Iewers kry ons kans om oor die son te kla;
soms maak ons tyd om na die maan te wys.
Sien ons in genade aan, Here!
Betoon ons tog gereeld die guns
waarsonder ons sou vergaan.
En wees asseblief jammer vir ons:
Ons volg met moeite die reëls van u spel.
Amen.
Barend Vos