Stap net oor die straat

Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra vir Jesus: “En wie is my naaste?” Jesus gaan toe nader daarop in deur te sê: “Toe ’n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. Dit gebeur toe dat daar ’n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. Net so het daar ook ’n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby. Maar ’n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind … Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het?” Die wetgeleerde antwoord: “Die man wat aan hom medelye bewys het.” Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so” (Lukas 10:29-37).

Wanneer ons Jesus navolg, leef ons nader aan God en aan ander mense. Ons kan eenvoudig nie aan die veilige kant van die pad leef wanneer mense rondom ons swaarkry nie. Ons moet die straat oorsteek, soos die jammerhartige Samaritaan in Jesus se gelykenis. Godsdienstige mense leef meestal aan die “veilige” kant. Hulle loop vroom-vroom verby die regte lewe. Soos die priester en die Leviet wat die jongste slagoffer van misdaad geïgnoreer het.

Jesus se aardskuddende verhaal in Lukas 10 maak dit duidelik dat ons nie kan kies wanneer ons ’n naaste vir ander wil wees nie. Ons het nie die “luukse” om te kyk of dit inpas by ons besige program of begroting nie. “Omgee” kan nie in jou dagboek se volgende opening ingeskryf word nie. Om iemand se naaste te wees gebeur onverwags. Al wat ons moet doen, is om met die liefde van die Here te leef. So sal ons gereed wees vir elke nuwe geleentheid wat oor ons pad kom. Dan sal ons nooit aan die ander kant van die pad verbystap nie.

’n Ruk gelede vertel ’n leraar my van ’n welvarende boer in sy gemeente wat met ’n stokou bakkie ry. Hy vra die boer wanneer hy dan ’n nuwe bakkie gaan koop. Toe sê die boer hy sal ná die oes kyk. Lank ná oestyd ry die boer steeds met die ou bakkie. Toe die leraar hom weer oor die bakkie uitvra, sê hy die dominee moet saamry plaas toe. Daar is hy besig om nuwe huise vir sy werkers te bou. Toe hulle so na die geboue staan en kyk, sê die boer: “Hier sien jy my nuwe bakkie. Ek kan nie voor die Here vrede hê as ek in ’n nuwe voertuig ry, maar my werkers bly in stukkende huise nie.”

Hierdie boer het die straat onherroeplik saam met die Samaritaan oorgesteek. Eers aan daardie kant van die pad, wanneer jy tussen die beseerdes, armes en gieriges loop, ervaar jy wat dit beteken om ’n naaste te wees, om weg te stap van die “veilige” kant van die straat en betrokke te raak.

Here, gee vir my die waagmoed om die pad oor te steek na mense in nood, om betrokke te raak eerder as om aan die veilige kant van die pad verby te gaan. Maak my oë oop vir die geleenthede wat U oor my pad stuur om my naaste met u liefde te dien. Amen.