Stiksienigheid

Lees Psalm 92:5-6.

U groot dade, Here, het my baie bly gemaak, ek wil juig oor wat U gedoen het (v 5).

Here, ek kom al meer agter dat ek sal moet leer
om beter te kyk. My oë oop te maak
sodat ek kan sien hoe en waar U werk.
Hoe en waar u handewerk uitgestal word –
hier in my leefwêreld, reg voor my bysiende oë.

Want as ek beter kyk – verder as my opgetrekte neus –
sal ek dalk kan sien hoe U sorg, en ’n idee kry hoe U dink.
Miskien kom ek dan agter dat daar ’n groter plan is
as wat ek vermoed. Dat U ’n omvattender verhaal
aan ’t vertel is as die petieterige paragrafies
van mý storie – wat reeds my verstand te bowe gaan.
Dat ek straks dán ’n slag daardie dankbaarheid aanleer
wat my lewe lank soek is. Dat die tyd uiteindelik aanbreek
dat ek meer oor u goedheid begin sing. En, veral, dat ek
my gebede rondom “dankie!” en “prys die Heer!” sal
struktureer. En minder gereeld daardie noodgebedjies uitryg
wat “groot asseblief” en “ek smeek U” as stapelwoorde het –
pure gewoonte, bygelowige mog ’t troffe.

Bring tog u handewerk nadruklik en onmiskenbaar
onder my aandag. Druk dit desnoods onder my neus.
Laat dit groter as lewensgroot bo my uittoring.
Laat dit my oorweldig en verbyster.
Laat die “hoe groot is U”- wysie en woorde my hart vul.
Laat u grootse Goddelikheid my kinderagtigheid
en kleinserigheid en infantiele optrede verdring.

Want U weet mos, Here, dat ek
een van daardie kleingelowiges is
wat groot dinge moet sien
voordat ek wil glo.

Verduur my tog!
Vergewe my.
Ag, en as U wil …
wys my dit weer, asseblief.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: