Stommiteite

Lees Jakobus 3:1-12.

Uit dieselfde mond kom lof en vloek … so moet dit nie wees nie (v 10).

Ag, dit is só bekend, hierdie storie oor die tong: die klein vuurtjie wat ’n groot bos aan die brand steek, die rustelose kwaad, die dodelike gif. Die verbysterende gespletenheid daarvan, wat maak dat ons met dieselfde tong die Skepper prys en sy skepsels vloek. Ons weet dit, ons weet dit alles. Wat kan ons daaraan toevoeg?

Wat ís daar te sê as ons niks te sê het nie? Al wat ons kan doen, is om te bely: Skuldig! Ja, ek is skuldig, Here, aan omtrent alles waarvan Jakobus die eienaar van ’n tong, die gebruiker van woor­de, hier beskuldig. Ek weet hoe ek praat, watter skade ek aanrig, presies watter vure ek aangesteek én gestook het.

Kan ’n mens die skade wat jou mond aangerig het, ongedaan maak? Kan jy die tong tem? Wie kan die skade van ’n bosbrand omkeer, en om wie se tong pas ’n toom? Nee, sê Jakobus, struikel sal ons struikel. Ons is eenvoudig nie volmaak nie.

Moet dié ellendige feit ons dan daarvan weerhou om te probeer? Al is dit bloot ter wille van die medemens vir wie ek reeds soveel skade aangedoen het? Ter wille van die Here wat ek Vader noem?

Kan ons tog nie maar probeer leer om tot by tien te tel voordat ons dit oorweeg om terug te skel nie? Om die wag voor ons mond wakker en op sy pos te hou nie?

Miskien kan ons dit oorweeg om God meer te loof. Om op dié manier die neiging om te vloek dood te leef.

Laat borrel, Here, vars water uit my mond! Suiwer my van die troebelhede waarmee ek so tevrede geraak het.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: