Teen die bulte uit

Lees Psalm 25:8-10.

Hy laat aan hulpeloses reg geskied en Hy leer hulle sy pad (v 9).

My pad is lank en swaar, kla ek. En soms: My pad is kort en klip­perig. Vol draaie, onverwagte afgronde, bedrieglike bulte. Kry my tog jammer!

Dikwels skaam ek my wanneer ek opnuut agterkom hoe ek kla. Sommer uit gewoonte kla. En dit raak ál erger, hoe ouer ek word en hoe verder ek op die lewenspad vorder. Ag, hoe wens ek dat ek my ontevredenheid oor die lewe te bowe kan kom. Dat my kinderagtige neulerigheid my tog nie so vooruit loop dat mense my begin vermy nie.

Ek begeer om soos hierdie psalmdigter te kan sê God vergesel my. Nog meer: Dat Hy my sy pad, die enigste regte pad, léér. Dat Hy my onderweg wys hoe spel jy “liefde” en hoe leef jy “trou” uit.

Nou sê die psalmdigter die Here loop tree vir tree saam met my, en onderweg onderrig Hy my oor dié pad. Daar is nie tyd vir klagtes nie, geen kans vir selfbejammering en simpatie soek nie. Hier vergaap jy jou aan sy werke, sy wonderwerke. Jy verstom jou oor die uitsig wat Hy jou gee en die insig wat Hy in jou skep.

Dit alles sê die psalmdigter. Só wil ek ook kan sê.

Maar ek sukkel. Ek beur teen selfgeskepte steiltes uit. Ek kla ’n storm op. Ek skel as die wind van voor af kom, of van die kant af, of van agter af. Én as dit gaan lê. Waar sal my hulp vandaan kom? Wie sal my van myself verlos?

Leer my, Heer, u regte weë, wys die regte pad my aan. Maak my verraderlike hart daartoe geneë om met lus daarop te gaan. Wil my deur u waarheid leer.

Barend Vos