Lees 2 Petrus 2:1-10a.
In hulle hebsug sal hulle julle met allerhande stories uitbuit (v 3).
Hier klim Petrus nou ook op die bekende Pauluswa: die dwaalleraars. Die Bybelleser moet seker nie hieroor verras wees nie; dit is te verwagte dat allerlei kansvatters gou sou spring om hul stempel op ’n nuwe, dikwels brose geloofsgroep af te druk.
Én hul pond vleis te eis. Petrus se voorbeelde en sy waarskuwings oor die nuwe vergrype verklap ook dié belangrike eienskap van sulke dwalers: “Hulle verlei onstandvastige mense en is bedrewe geldwolwe …” Hulle is “daarop uit … om vir geld onreg te pleeg …” (2 Pet 2:14-15).
Nou toe nou! Is daar dan regtig niks nuuts onder die son nie? Want ons ken dit maar te goed: die tallose verhale oor “geestelikes” wat met groot geld laat spat, en dan dikwels die geld van desperate mense wie se nood hulle liggelowig maak. Wat hulle elke greintjie goeie nuus gretig laat opslurp – en daarvoor laat betaal. Van daar is dit dan nét slegte nuus …
Hierdie gewetenloses se modus operandi het klaarblyklik deur die eeue dieselfde gebly: Petrus noem dit “allerhande stories” (v 3) wat hulle verkondig. En die ellende hiervan is dat dié stories altyd vol geloofswoorde en selfs geloofswaarhede is. “Jesus!” is dikwels die allergewildste woord, met “halleluja!” straks ’n kortkop agter. Daar word altyd heelwat oor “sonde” gesê, en “vergifnis” word met ’n groot gebaar aangebied. Teen ’n prys, natuurlik.
Let op: Petrus praat nie van die kerklos boereverneukers onder wie vele al deurgeloop het nie. Hy verwys na bedrog in die boesem van Christus se kerk. Na hulle wat hul dwaalleer dáár insmokkel.
Kerkmense, dus.
Hou my by u waarheid, Here, by die eenvoud van liefde, die vrede van vergifnis.
Barend Vos