Testament van trou

Lees Psalm 105:8-11.

Hy hou sy verbond altyd in stand, die belofte wat Hy aan duisende geslagte toegesê het (v 8).

Here, ek wonder deesdae oor my vergeetagtigheid;
my sogenaamde swak geheue. Nee, dit is nie dat ek
meer dikwels my sleutels verlê of dat mense se name
my aanhoudend ontgaan nie. Dit is dat ek u beloftes
so gou vergeet; die erewoord wat U my gegee het.

Dan bevind ek my gou op moedverloor se vlakte,
in sak en as,
kop tussen die knieë.
Dan voel ek om vir die wêreld uit te roep:
“Noem my Mara, want dit is bitter!”

Dit kos my weke, soms selfs maande,
voordat u woord weer op ’n dag tot my deurdring.
Wanneer ek opnuut u beloftes ter harte neem.
Om dan blosend, skaam-skaam,
van die ashoop af op te staan,
my klere af te stof, my gesig te was
en almal weer in die oë te kyk en te bieg:
Dit sal reg wees, álles sal reg wees. God sorg.

Daarom sê ek dankie, Vader, dat U my, u kind,
gereeld daaraan herinner dat U nooit vergeet nie.
Die appel het hiér bitter ver van die boom geval …

U gaan nooit terug op u woord nie;
ek hoef U nie aan te praat nie.
U verbreek nie u beloftes nie.
Al die geslagte is die getuies van u goedheid.
Die ou geskiedenis is die testament van u trou.

Miskien is dit juis daarom dat ek so radeloos
is oor my koponderstebo-houding, so skaam
dat ek sóveel swarighede sien.
Alles getuig teen my.
Al wat leef en beef sê tog
God sorg,
onthou!
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: