Tevergeefs?

Lees 2 Korintiërs 5:20b–6:10.

Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! (5:20b).

Dit is sekerlik een van die ellendigste woorde in Afrikaans (en in enige taal): “tevergeefs”. Bloot die sê daarvan het ’n moedelose klank. Leeg. Vol verydeling.

Teleurgestelde mense steek hul teleurstellings dikwels diep in hul hart weg. Praat nie juis daaroor nie. Sit eerder ’n vrome voetjie voor. Glip gemaklik ’n vrolike alles-sal-regkom-masker daaroor. Sê niks, dan is daar niks …

Wie het al ’n oomblik aan God se teleurstellings gedink? Kan Hy hoegenaamd teleurgestel word? Hy is immers die Almagtige, die onbeweeglik Sterke? God rym in geen taal met weerloos nie.

Tog skryf Paulus aan hierdie gemeente dat hulle moet sorg dat hulle God se genade nie tevergeefs ontvang het nie. God gee hier­die genade ten koste van sy Seun se lewe. Hy bewerkstellig die versoening tussen Hom en sy ander seuns en dogters op die bloed van sy Eniggeborene. Dit is duur, dúúr.

Sê nou dit was alles tevergeefs? Sê nou maar hierdie seuns en dogters ontvang dié onbeskryflik groot genade … en doen niks daarmee nie? Gooi dit weg? Ignoreer dit? Sê dinge soos: Later, later, wanneer ek tyd het?

Dit is nou die tyd! roep Paulus uit. Ek soebat julle, sê hy, in Christus se Naam. Kyk dan wat het dit Hom gekos, én vir ons wat sy genade aan julle verkondig het. Moenie hierdie rykdom deur argelose vingers laat glip nie. Moenie God teleurstel nie. Moenie sy planne vir jou verydel nie.

Here, help my om ten minste iéts van die omvang van u weldade te verstaan. Om dit dan aan te gryp.

Barend Vos