Lees Psalm 94:16-23.
Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here (v 18).
Here, op die pad wat U my wys,
kom ek meer moeilikheid teë as waarop ek gereken het.
Trouens, ek is meestal onvoorbereid op die felheid en venyn;
die agterbaksheid van teenstanders en kwaadpraters.
Meer dikwels as wat ek wil erken, bevind ek my op die rand
van ’n afgrond. Ek moet telkens keer dat my voet swik en ek,
met swaar las en al, so ver val dat ek nie weer gevind sal word nie.
Soms ervaar ek selfs die sensasie dat iemand
my daar wil afstamp; dat hy my bekruip;
dat hy wag om my onverhoeds te betrap.
Ek moet waak teen die toenemende broosheid
van my hart. Teen die sluipende twyfel
wat my onder die geringste voorwendsel
sal oorweldig en vernietig.
Ek koes vir my eie gedagtes.
Hulle dring hulle aan my op.
Hulle wil my tot oorgawe dwing.
Tot op hede het U gekeer.
U het halt geroep en u hand uitgestrek,
my beetgekry en teruggehou.
U het my tot nou toe op ’n manier
gepantser teen die slopende angs
wat my sal platslaan as hy die kans kry.
U het nuwe denke in my kop geprent;
die ou dinge het vervaag, verbygegaan.
Ou én nuwe vyande het in die stof gebyt –
die kwaadstokers, die onregsaaiers.
U het vir hulle gesê: Tot hiertoe, en nie verder nie!
Tot hiertoe het U my gehelp;
ek loof en dank U daarvoor.
Ek kan U met reg “Helper” noem.
Redder.
Trooster van my hart.
Tuiste.
Amen.
Barend Vos