Trane van triomf

Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie (1 Tess 4:13).

Dit is vir geen mens maklik om ’n geliefde aan die dood af te staan nie. Dis baie, baie moeilik om afskeid te neem van ’n man, vrou, kind, ouer of boesemvriend wat jy al jare lank ken, en wat een met jou geword het.

Buiten sy lyding ter wille van die verkondiging van die evangelie, het Martin Luther ook sy kwota persoonlike leed beleef. Ons hoor hom sê: “Ek is ook ’n vader en ek het kinders van my sien sterf en ek weet hoe seer dit maak.” Sy dogtertjie Magdalene is dood toe sy maar dertien jaar oud was. By Magdalene se sterfbed het Luther gebid: “Here, ek het haar baie lief. Maar as dit u wil is dat U haar neem, troos ek my met die wete dat sy by U is.”

By haar begrafnis kon hy bely: “Daar is ’n opstanding van die dooies.”

Ook ons as gelowiges sal die een of ander tyd hartseer ervaar weens die dood, of ons het al. In sulke omstandighede mag ons maar trane stort. Dis selfs noodsaaklik. Tog is ons trane en droefheid nie vanweë hooploosheid nie. Paulus troos ons met die gedagte dat ons nie “soos die ander [ongelowiges]” oor die dood hoef te treur soos mense sonder hoop nie (1 Tess 4:13). Ons trane word gestort, ons droefheid word beleef teen die horison van hoop.

Want daar is ’n opstanding van die dooies …

Here, soms voel dit vir ons of ons hartseer nooit sal ophou nie. Tog is dit maar kort in vergelyking met die ewigheid. Leer my om te lag deur my trane heen. Amen.