Dag 2: Om by mekaar in die skuld te wees

Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit – Romeine 13:8.

Volgens Paulus is alle Christene diep in die skuld. Ons dra, so sê hy, eintlik ’n dubbele skuldlas. Daar is die skuld wat ons met geld moet vereffen, soos ons belasting. Dié soort skuld beveel Paulus, soos enige goeie ekonoom, ons aan om altyd te betaal (Rom 13:7). Trouens, hoe gouer ons hierdie skuld kan afbetaal, hoe beter vir ons, want dit verarm ons net.

Ons het egter ook ’n ander soort skuld wat ons nie met geld kan afbetaal nie – ’n liefdeskuld aan mekaar (Rom 13:8). Dié skuld kan ons net afbetaal deur dade van liefde aan mekaar te betoon. Die wonderlike daarvan om ons liefdeskuld te kan af werk, is dat dit ons nie bankrot maak nie, maar skatryk. Daarom is dit goed dat ons dié skuld nooit sal kan vereffen nie. Om mekaar te dien gee immers aan ons ’n lewensvreugde wat niks anders op aarde aan ons kan verskaf nie.

Ons word egter nie net verryk deur ons liefdesdade aan ander nie, maar ook deur ander se liefdesdiens aan ons. Ons word dus in ’n dubbele sin geestelik verryk deur mekaar in liefde te dien.

Here, dankie, dat U ons vrygekoop het van ons skuld aan U. Dankie dat ons U nie daarvoor hoef te vergoed nie. Help ons egter om die liefde en genade wat ons van U ontvang konkreet teenoor ander uit te leef. Amen.

Dag 1: Om mekaar lief te hê

Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God – 1 Johannes 4:7.

Daar is ’n ou legende oor iemand wat die hemel en die hel besoek het. In die hemel én in die hel was daar tafels wat met allerlei heerlike kossoorte gedek was. Die probleem was egter, op albei plekke was die enigste beskikbare eetgerei lepels wat langer as ’n mens se arm was. Gevolglik kon niemand self die kos in hulle monde kry om daarvan te geniet nie. Die besoeker het egter opgemerk dat almal in die hemel versadig was, maar in die hel was almal uitgeteer. Waarom? Omdat almal om die tafels in die hemel mekaar gevoer het.

Dié legende verwoord een van die wesenskenmerke van die Christelike lewe: Ons leef nie ter wille van onsself nie. Ons leef ook nie net ter wille van ander nie. Ons kan ander immers dien sonder om in ’n ware verhouding met hulle te staan. Die wesenskenmerk van die Christelike geloof is dat ons in ’n opregte liefdesverhouding met mekaar leef. En hierdie verhouding impliseer die vermoë om liefde te kan gee én liefde te kan ontvang.

In die volgende paar dae gaan ons elke dag by ’n ander aspek van dié wederkerigheid van ons geloofslewe stilstaan deur die verskillende mekaar-opdragte in die Nuwe Testament saam te lees.

Vader, leer my om ander in liefde te dien. Help my ook om die liefde van ander te aanvaar. Amen.

Binne die stroom van die triomf

Maar nou, Christus is opgewek uit die dood (1 Kor 15.20).

Sonder Jesus se opstanding sou die hoop op die opstanding ’n illusie wees. Tussen sy opstanding en ons s’n is daar ’n onverbreekbare band. Paulus sê triomfantlik: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het. Aangesien die dood deur ’n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ’n mens gekom. Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word” (1 Kor 15:20-22).

Kan ons hierdie verbondenheid met ’n beeld probeer uitdruk? Dié wat weet, sê daar kan op die spoor van ’n vuurpyl ’n kragveld geskep word, ’n vakuum, wat alles daarin meesleur. Dit is die suigkrag van die vuurpyl se blitsige vaart. As iemand hierin sou beland, sou hy of sy beslis die kragstroom ervaar, beslis meegesleur word. Die opstanding van Jesus het, met eerbied gesê, so ’n suigkrag van oorwinning, so ’n stroom van triomf vir ons geskep. Hy is die voorste, die eersteling uit die graf. Hy klief die dood oop, bars deur die graf! En slegs deur die geweldige kragstroom kan ons Hom in ons eie opstanding volg. Sonder Jesus is ons kragteloos, verlore … sink ons terug op die aarde, in die stof.

Dié doodse kragteloosheid sak dikwels op ons toe. Dikwels wil ons terugval, wegval uit die stroom van sy triomf uit die dood. Val liewer in agter Jesus! Volg Hom! Bly op sy spoor! En ervaar die krag … nou en op die opstandingsdag.

Sonder Jesus is ons kragteloos, verlore … sink ons terug op die aarde, in die stof.

Jesus, U gaan voor. Ek volg in u spoor. Amen.

Johan Cilliers

Die evangelie is die evangelie

As daar geen opstanding van die dooies is nie, beteken dit dat Christus ook nie opgewek is nie (1 Kor 15:13).

Om te sê ons bely in die opstanding van die vlees, sê ons glo werklik ons sal eendag liggaamlik opstaan. Dat ons dit kan bely, is ’n vrug van die handelinge van die drie-enige God in ons belang. Die belydenis oor die opstanding van die vlees is in sekere sin ook ’n samevatting van die Christelike geloof en ’n kernagtige verwoording van ons hoop. Alles wat ons glo, staan of val immers met hierdie belydenis oor die opstanding van die gelowiges.

Waarom dit juis so is, gaan ons in die volgende maand se boodskappe ontdek. As vertrekpunt kan ons sê: Die opstanding van die vlees, ons opstanding, is alleen moontlik omdat Jesus Christus uit die dood opgestaan het. Die een kan nie van die ander losgemaak word nie. Paulus sê byvoorbeeld baie duidelik in 1 Korintiërs 15:12-13:

“As ons dan verkondig dat Christus uit die dood opgewek is, hoe kan party van julle nog beweer dat daar geen opstanding van die dooies is nie? As daar geen opstanding van die dooies is nie, beteken dit dat Christus ook nie opgewek is nie.”

Maar nou is Christus opgewek! Dis die evangelie. Daarom sal ons opgewek word. Dis ook die evangelie. Kan jy die een glo en nie die ander nie? Nee! Die evangelie is die evangelie …

Alles wat ons glo, staan of val met die belydenis oor die opstanding van die gelowiges.

Jesus, U leef! En ek met U. Amen.

Johan Cilliers

Teen die bose kringloop

“En vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree” (Matt 6:12).

Die gebed om vergifnis van sonde (Matt 6:12) staan lynreg teenoor ’n drang om vergelding. Ons vra God hiermee nie om ons vyande uit te delg of oor te haal tot ons standpunt nie. Nee, ons vra God om aan ons vergifnis te skenk sodat ons hulle kan vergewe. Met hierdie gebed gee ons nie wraak en vergelding verder aan nie; ons hou op met die aangee van moordende kyke of woorde of dinamietkerse of handgranate na mekaar. Want die aflosstok van vergifnis is Christus self! Daarmee gee ons ook onsself. Ons vergewe nie maar net uit die verte en laat die ander maar aan hulle lot oor nie; nee, in ons kry vergifnis menslike voete en hande en oë en ore … soos Luther gesê het: Christene is “’n Christus vir ander”.

Natuurlik is dit geen eenvoudige oplossing vir alle probleme in die wêreld en spesifiek in ons land nie. Die stryd om vergifnis van jou vyand bly iets wat teen ons grein en ego ingaan. Die bose kringloop van onvergewensgesindheid dreig telkens om terug te keer … Want selfs wanneer ons onsself nie meer verengel nie en ons gesamentlike skuld bely, word ons nog nie engele nie. Ons wag meestal dat die ander persoon of groep die eerste stap van vergifnis moet gee. Ons hou die aflosstok van vergifnis vir onsself, of laat dit roekeloos val. Ons word keer op keer gediskwalifiseer.

Maar, dit verander niks aan die wonder van die vergifnis nie. Christus het eens en vir altyd (Heb 7:27) die offer gebring wat nodig was vir skuldvergifnis by God. Hieruit moet ons leef, die vergifnis telkens uit Gods hand ontvang.

Dat ons dit nog kan doen, is dalk die grootste wonder van genade, van vergifnis …

Ons hou die aflosstok van vergifnis vir onsself, of ons laat dit roekeloos val …

Here, maak my ’n instrument vir u vergifnis. Amen.

Johan Cilliers

Op jou merke! Gereed! Weg!

“En vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree” (Matt 6:12).

Christus deurbreek nie net die bose kringloop waarin die groot aanklaer, die Bose, mense by God en teenoor mekaar aankla nie. Nee, Hy skep ook ’n nuwe kringloop waarin vergifnis in omloop is. Hy is nie die groot Aanklaer nie, maar die groot Vryspreker wat ’n proses van vergifnis aan die gang sit. Ons hoor iets daarvan in die bede: “Vergeef ons … soos ons vergewe” (Matt 6:12).

Helmut Thielicke, ’n bekende Duitse teoloog en skrywer, sê vergifnis is soos ’n afloswedloop. Soos ’n aflosstokkie, moet vergifnis telkens aangegee word, telkens deurgegee word. Wie hierdie reël van die wedloop verbreek, word gediskwalifiseer en mag nie verder hardloop nie. Want daardeur word die wesenlike reël van die kringloop om die baan verbreek. Só moet die vergifnis wat ons van Christus ontvang as ’n voortgaande kringloop van vergifnis behou word. Ons moet as’t ware telkens die aflosstok van vergifnis uit Christus se hand ontvang en daarmee die wêreld ingaan, die vergifnis deurgee aan ons huweliksmaat, ons kollegas by die werk, ons politieke opponent, ja, ons vyand.

Wanneer ons by Christus terugkom en ons het nog die vergifnis in ons eie hand, as ons dus ander mense nie hulle oortredings vergewe het nie, sal ons nie weer die aflosstok van vergifnis ontvang nie, sal die hemelse Vader ons ook nie ons oortredings vergewe nie (Matt 6:14-16). Dan het ons die kringloop van God se vergifnis deurbreek en word ons gediskwalifiseer. Daarmee verval ons in die kringloop waar die Bose heers, verval ons in skuldontkenning en haat en wraak en … die dood.

Maar nou: Die aflosstok van vergifnis is in jou hand. Op jou merke! Gereed! Weg!

Die aflosstok van vergifnis is in jou hand. Wat gaan jy daarmee maak?

Here, ek het die aflosstok in my hand, maar hardloop tog saam met my. Amen.

Johan Cilliers

God se sondebok

Die oue is verby, die nuwe het gekom (2 Kor 5:17).

Is dit moontlik om weg te tree uit die tipies menslike en bose kringloop van skuldprojeksie op ander? ’n Mens word tog in hierdie kringloop gebore. Jy kan jouself tog nie aan die kraag vat en jou daaruit optrek nie.

Nee, jy kan nie. Ek net so min. Maar Christus het hierdie kringloop kom verbreek. Hy haal ons daaruit. God het self sy sondebok voorsien, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh 1:29). Net Christus kan die verwyte en die beskuldigings omskep in skuldbelydenis en skuldvergifnis. Net Christus kan die skuld van ons verlede tot niet maak. Dit is tog die hartklop van die evangelie: Mense kan nuut gemaak word, oor begin, sonder skuld voor God en medemens.

Net Christus kan die bose kringloop deurbreek in die huwelik, by die werk, in die politiek, in Suid-Afrika, in die wêreld. Ja, omdat vergifnis moontlik is in Christus, kan ons in ons land en in ons wêreld weer begin, nuut begin omdat ons ons (gesamentlike) skuld nie net voor mekaar nie, maar ook voor Hom mag bely en dit dan deur Hom weggeneem word. Só word ’n nuwe wêreld moontlik: mense wat nuut voor God en daarom nuut voor mekaar staan. Want: “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom” (2 Kor 5:17).

Ons wêreld het sulke mense nodig, nuwe mense. Mense wat ander nie op grond van taal, kultuur, velkleur, politiek of sosiale status beoordeel nie, maar op grond van hulle waarde voor God. Vanuit die genade en die vergifnis van God. Omdat hulle self deur God geoordeel word.

Net Christus kan die verwyte en die beskuldigings omskep in skuldbelydenis en vergifnis.

Here, plaas my in die kringloop van vergifnis. Amen.

Johan Cilliers

Tegniek van verontskuldiging

“Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie?” (Matt 7:3).

Die bede om skuldvergifnis in die Ons Vader-gebed (Matt 6:12) staan lynreg teenoor ons neiging om altyd die skuld op iets of iemand anders te pak. Sedert Adam vir Eva en Eva die slang beskuldig het (Gen 3:12-13), gebruik ons hierdie tegniek so graag! In die huwelik gee ons so maklik vir mekaar die skuld; ons speel so graag die “onskuldige” party in ’n rusie, sodat ons gerieflik alle blaam op die ander, die “skuldige” een, kan laai. Wanneer dinge by die werk skeefloop, is ons gou om die sondebok uit te wys. Wanneer sake in die politiek skeefloop, is ons gou om die skuld op die ander groep se rekening te plaas: die regses, die linkses, die regering, die opposisie, altyd dié wat anders as ons dink.

Ons is baie gou om ’n beskuldigende vinger na ander te wys – en daarmee weg van onsself. Die ander word die verpersoonliking van alles wat boos is. Hulle wat nie dink soos ons nie, is die duiwel in die vlees, die antichris in persoon. So vlieg die beskuldigings heen en weer. Ons verduiwel ons vyande, en verengel onsself.

En daarmee was ons, soos hedendaagse Pontius Pilatusse, ons hande in onskuld.

Jesus het gesê: “Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?” (Matt 7:3). Laat die Here die balk uit jou oog haal. En die splinter uit dié van die ander.

Ons verduiwel ons vyande en ons verengel onsself.

Here, hoe kan ’n blinde ’n oogoperasie op ’n ander uitvoer? Genees U my oë sodat ek met liefde na ander kan kyk. Amen.

Johan Cilliers

Die taal van skuldverbondenheid

“En vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree” (Matt 6:12).

Hierdie vyfde bede van die Ons Vader-gebed, soos trouens al die bedes van hierdie gebed, kan nie net deur enkelinge gebid word nie. Daarvoor is die “ons” wat vier keer herhaal word net te opvallend. Met hierdie gebed bring ons ons oortredings na God toe, maar ook meer: Ons bring die oortredings van ons gesinne, die oortredings van ons kerke, van ons volke, van ons regerings en uiteindelik van die ganse mensdom na God toe.

Wanneer ons sê “ons”, is dit soos ’n klippie wat in die dam gegooi word: Die rimpelings kring al verder uit. “Vergeef ons ons oortredings” is in sekere sin ’n universele gebed. In hierdie gebed leer ons die taal van skuldverbondenheid aan. In Dostojefski se roman Die broers Karamazov sê die sterwende seun Markell aan sy moeder: “Ons elkeen is voor almal in alles skuldig, en ek, ja, ek, meer as almal.” Met hierdie taal van “korporatiewe” skuld word die bose kringloop van wedersydse verwyte en beskuldiging deurbreek. Met hierdie taal bely ons: Ons is die outeurs van ons eie skuld. Hiermee erken ons: Daar is ’n net van skuld wat oor ons almal sprei …

Steek vandag die hand in eie boesem. Hou op om te reken dat net die ander die skuld dra, of dit nou jou huweliksmaat, kollega, politieke opponent of vyand is. Jy dra ook skuld. Want jy is ’n mens wat moet bely: “En vergeef ons …”

“Ons elkeen is voor almal in alles skuldig, en ek, ja, ek, meer as almal.”

Here, ek wil vandag ophou vinger wys, en eerder hand in eie boesem steek. Vergewe ons … Amen.

Johan Cilliers

 

Toets vir vergifnis

“Julle moet julle vyande liefhê” (Matt 5:44).

Die opdrag om ander mense te vergewe, is in sommige gevalle makliker om uit te voer as in ander. As dit nie ’n groot en moedswillige misstap is wat iemand teen jou begaan het nie, as dit jou nie regtig seergemaak het nie, en veral as dit jou vriend is wat jy moet vergewe, is dit nie te moeilik nie. Maar, as die een wat jou te na gekom het jou vyand is, as hy of sy jou moedswillig seergemaak het … dan lyk die saak anders.

Juis hierin lê die ware toets vir vergifnis. Is ons bereid om mense wat ons lewe op ’n ingrypende, negatiewe manier raak van harte te vergewe? Is ons bereid om op te hou sê “’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand” (Matt 5:38)? Dit kan die dronk bestuurder wees wat jou kind doodgery het, of die rower wat jou motor gekaap het, of die nalatige dokter wat jou gesondheid ’n knou gegee het, of die een wat jou in die verlede geboelie of verneder het. Kan jy hulle vergewe? Selfs al erken hulle nooit hulle foute nie? Selfs al word hulle nooit gestraf nie? Selfs al vra hulle amnestie?

Daar was ’n swart Christenleier wat wreed mishandel is en baie gely het onder Idi Amin, ’n voormalige diktator van Uganda. Maar deur God se genade kon hy Amin vergewe. Toe noem hy sy boek oor hierdie gebeure I love Idi Amin.

Net die wete dat God vir ons, wat sy vyande was en wat Hom so diep seergemaak het, so baie misstappe vergewe het, kan maak dat ons ander mense ook sal vergewe. Dat ons nie meer sal vergeld nie, maar werklik sal vergewe. Met ons hele hart. Sodat ons dalk ook eendag van mnr X of mev Y sal kan sê: “I love X”, “I love Y”, “I love …”

Slegs die wete dat God ons so baie vergewe het, kan maak dat ons ander mense ook kan vergewe.

Here, wat is ek anders as ’n vyand van God wat vergifnis ontvang het? Gee tog dat ek ook my vyande sal vergewe. Amen.

Johan Cilliers

1 2 3 147