Slegs besoekers

Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie (2 Tim 3:5).

In Amerika word die evangelie op baie maniere oor die televisie verkondig. Een metode is uitsonderlik en blykbaar ook die suksesvolste. Dit bestaan uit ’n soort “advertensie” vir die Here, ’n flits van enkele sekondes – meestal tydens spitskyktyd – wat ’n enkele, treffende waarheid probeer tuisbring.

Een van die advertensies lyk só: ’n Kerk kom uit; die diens is verby. Een van die “lidmate” klim in sy motor en sien dat hy deur ander motors vasgeparkeer is. Die een gefrustreerde vloekwoord na die ander rol oor sy lippe. Uiteindelik trek die ander motors weg, en die man kan ook sy ry kry. Wanneer hy met skreeuende bande wegtrek, sien jy ’n bordjie langs die plek waar sy motor gestaan het. Wat staan daarop? Visitors only.

Die boodskap is duidelik: Nie almal wat kerk toe gaan, is waarlik kerk van die Here nie. Hulle kan nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens ken hulle nie (2 Tim 3:5). Daarom gebruik hulle eerder kragwoorde.

Is jy ’n besoeker in die kerk, of deel van die ware gemeenskap van die heiliges? Het jou godsdiens krag?

Nie almal wat kerk toe gaan, is waarlik kerk van die Here nie.

Here, verander my van ’n besoeker in ’n inwoner. Amen.

Johan Cilliers

Ek in my klein hoekie!

Net soos die liggaam ’n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus (1 Kor 12:12).

In Amerika is daar ’n kerkgroep wat byeenkomste soos die volgende reël: Jy en jou gesin kom per motor daar aan en word deur ’n ingang toegelaat – amper soos motors by ’n inryteater. Dan kan jy jou motor parkeer, die luidspreker deur die venster intrek en in die privaatheid van jou motor jou godsdiens geniet. Elkeen in sy of haar blikhokkie.

Nee! Die kerk is ’n gemeenskap van gelowiges, ’n liggaam waarvan al die dele ’n eenheid vorm. Dit word duidelik gesê in 1 Korintiërs 12:12: “Net soos die liggaam ’n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam … een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus.” Hierdie “liggaamlikheid” of gemeenskaplikheid van die kerk moet tot elke prys bewaar en uitgebou word. Want daarin is ons juis anders as die wêreld. In die wêreld is dit elkeen vir homself, is selfsug dikwels die oorheersende “wet van die lewe”. In die kerk geld die teenoorgestelde.

Die Heidelbergse Kategismus (Sondag 21, Vraag 55) stel dit treffend: “Eerstens dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het. Tweedens dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.”

Nou ja, dit kan ’n mens beswaarlik in ’n hoekie of ’n hokkie doen.

In die wêreld is dit elkeen vir hom- of haarself; in die kerk is dit elkeen vir die ander.

Here, haal my uit my hokkie. Maak my oë oop vir my broers en susters. Amen.

Johan Cilliers

Bruidegom en bruid

Die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak (Op 19:7).

Die Bybel doen moeite om ons die wese en die funksie van die kerk te help verstaan. Daar is ’n hele reeks beelde – sommige meen daar is meer as 80 – wat dit treffend omskryf. Hierdie beelde vul mekaar aan en druk saam die rykdom, die wonder uit van wat ons “kerk” noem.

Jesus praat byvoorbeeld van die kerk as die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld (Matt 5:13-16). Paulus noem die kerk onder meer die gebou van God, die volk van God en ’n nuwe skepping. Miskien sy bekendste beeld is dié van die liggaam van Christus (1 Kor 3:9 ev). Petrus en die Hebreërskrywer verwys na die kerk as bywoners en vreemdelinge in hierdie wêreld (Heb 11:13; 1 Pet 2:11). In die Openbaringboek noem Johannes die kerk die bruid, mooi getooi vir haar ewige en heerlike Bruidegom (Op 19:7). Dit, en veel meer … is die kerk.

Uit die rykdom van hierdie beelde weet ons veral dit: Ons het gemeenskap met God en met mekaar, en ons word deur God gebruik om ware gemeenskap in die wêreld tot stand te bring. Hoe bevoorreg is ons! Deur ons weerklink die wonderlike evangelie in die wêreld: God het deur die bloed van sy Seun aan die kruis die vrede herstel, “deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen” (Kol 1:20).

Waarlik, ons kan opgewonde bly oor die kerk. Want ons is deel van God se groot versoeningsplan, deel van die herstel van die gemeenskap wat Hy tussen Hom en die sondige wêreld bewerk.

God gebruik ons om ware gemeenskap (koinonia) in die wêreld tot stand te bring.

Hemelse Bruidegom, vandag wou ek bruilofsreëlings tref. Dankie dat dit reeds getref is. Amen.

Johan Cilliers

 

Familie van God

Ek skrywe vir julle, liewe kinders, omdat julle sondes vergewe is in die Naam van Jesus (1 Joh 2:12).

Individualisme is die kenmerk van ons Westerse samelewing. Ons leef asof elkeen net op hom- of haarself aangewese is, net op sy of haar eie kragte en insigte moet staatmaak. Die (ongeskrewe) reël lui: Elkeen vir homself, en na die duiwel met die res. Daarom moet jý alles uithaal om bo te kom, om te presteer, al beteken dit jy trap in die proses op ander. Dis immers ’n kwessie van die oorlewing van die sterkste.

Die Bybelse denke oor mense, en in die besonder oor die kerk, is totaal anders. Augustinus het in navolging van die Skrif van die kerk as familiae Dei (die familie van God) gepraat. In hierdie familie is daar groot verskeidenheid, kom daar soms – soos in enige familie – verskil van mening voor. Soms is daar pynlike verwydering tussen familielede. Maar deur dit alles heen weet ons: Ons hoort bymekaar! Ons is broers en susters. Deur ons Broer Jesus Christus het ons ’n Vader. Die kerk is ons moeder (Calvyn). In hierdie familie is daar verskillende stadiums van geloofsgroei. Daar is byvoorbeeld die kinders, die vaders en die jongmense in die geloof (1 Joh 2:12-14).

Maar ons is een: God het ons, nog voordat die wêreld geskep is, uitgekies om heilig en onberispelik voor Hom te wees (Ef 1:4). Word gewoond aan hierdie familie. Soek hulle op. Jy gaan ’n ewigheid saam met hulle deurbring.

Ons het ’n Vader deur ons Broer, Jesus Christus. Die kerk is ons moeder.

Here Jesus, Broer! Bring my vandag tuis by my mense – u mense. Amen.

Johan Cilliers

Soli Deo gloria!

“Julle is die lig vir die wêreld” (Matt 5:14).

Die kerk is die sout vir die aarde. Dit is ook die lig vir die wêreld (Matt 5:14). Lig is nooit daar ter wille van die lig as sodanig nie. Lig openbaar eerder ander dinge, verlig die omgewing. Lig straal uit, word as’t ware opgelos in die donkerte … om juis die donkerte te verdryf. Die donkerte moet voor die lig wyk! Dit is onmoontlik dat ’n ruimte stikdonker kan bly as daar ’n lig skyn. Maar wanneer die ligstrale op ’n manier gekeer of bedek word, soos onder ’n maatemmer (5:15), neem die duisternis weer oor, herwin dit oombliklik die terrein waaruit dit verdryf is.

As lig vir die wêreld moet die kerk ook sekere dinge gesien laat word, dit openbaar maak. Soos die heerlike toekoms van die kerk: die nuwe stad Jerusalem. Hiervan kan die kerk nou reeds, in hierdie donker wêreld, getuienis aflê. Dit kan nie weggesteek word nie (5:14). Die kerk kan ook sigbaar maak dat ons altyd geborge kan voel weens God se teenwoordigheid by sy volk. Die lig wat van die kerk uitstraal, moet veral daartoe lei dat die Vader wat in die hemel is, verheerlik word (5:16).

Die kerk is daar, is lig, ter wille van die wêreld, ja, maar veral ter wille van die eer van God! Dis tog merkwaardig – mense sien die goeie werke wat die kerk doen, sien die lig wat van die kerk uitstraal – en verheerlik die Vader! Ons is dus deursigtig. Mense sien dwarsdeur ons … en sien die Vader.

Of, ons lewe kan so duister wees dat hulle Hom nie sien nie. Kom ons maak daarom die leuse van die Hervorming vandag ons eie: soli Deo gloria – Aan God alleen die eer.

Ons is deursigtig. Mense sien dwarsdeur ons … en sien die Vader.

Here, laat my kersie vandag u lig wees. Amen.

Johan Cilliers

Ons is uniek

Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet (Kol 1:13).

Die belydenis dat ons glo in die gemeenskap van die heiliges is eers redelik laat (ongeveer 350-400 nC) in die geloofsbelydenis opgeneem. Die aanvanklike bedoeling daarmee is nie sonder meer duidelik nie. Sommige meen dit is bloot ’n uitbreiding of beklemtoning van die voorafgaande belydenis oor die kerk.

Maar dit is reeds ’n winspunt! Want hier word weer gepraat oor heiligheid of heiligmaking. Daaroor raak ’n mens nie maklik uitgepraat nie. En tog het hierdie belydenis sy eie klem, wat die geloofsbelydenis oneindig verryk en verdiep …

Die belangrikste is die feit dat die gemeenskap van die heiliges anders is as enige ander gemeenskap. Ons is uniek! Ons is deel van die gemeenskap, nie kragtens ons wilsbesluite of voorkeure nie, maar kragtens God se genade. “Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet” (Kol 1:13).

Menslike gemeenskappe sal ons dalk faal. Wie hulle vertroue stel in familie, vriende of klubs sal dalk ontnugter word. Maar hier, in die gemeenskap van die heiliges, is ons by God se mense, is ons by God self. Hier kom ons tuis …

Hier, in die gemeenskap van die heiliges, kom ek tuis.

Vader, by u mense is ek so geborge soos ’n kind in ’n gelukkige gesin, want U is die Vader. Amen.

Johan Cilliers

Uit die soutpot

“Julle is die sout vir die aarde … Julle is die lig vir die wêreld” (Matt 5:13-14).

Die kerk is die sout vir die aarde (Matt 5:13). Dit beteken ons, soos sout in water of kos, moet opgelos word in die wêreld, wegvloei, indring in die samelewing, om die verderf oral en altyd te kan teenwerk. Die tragedie is dat die kerk hom deur die eeue heen dikwels hierteen verset het en eerder gekonsentreer het op sy eie welsyn.

Baie Christene openbaar so ’n mentaliteit. Hulle leef slegs van Sondag tot Sondag. As hulle in die kerk is, tussen ander gelowiges, word hulle “batterye” herlaai – om volgende Sondag maar net weer gelaai te word.

Iets hiervan is natuurlik waar. Dit is onder meer die sin van die Sondag en die erediens. Maar dit is nie al nie! Ons moet tussen die Sondae, in die week, elke-dag-Christene wees. Om te bly by die beeld wat die Here gebruik het: Die kerk kan maklik as soutkorreltjies in hulle soutpotjie (die kerk) bly saamkoek en een groot klont word. Wat dan nie uit die soutpot kan kom nie … terwyl die wêreld daar buite vergaan.

Die Here wil vandag iemand oor jou pad bring. Iemand wat jou nodig het. Skud wakker, skud uit! Wees die sout vir die aarde! Nie net ’n korreltjie of ’n klontjie in ’n potjie nie.

Die kerk kan maklik soos soutkorrels in hulle soutpotte bly saamkoek en saamkloek.

O Here, ek is meestal soos Lot se vrou – ’n soutpilaar. Of ’n vaste inwoner van die soutpot. Laat ek tog vandag tot u eer in die wêreld opgelos word. Amen.

Johan Cilliers

Voertuig van die genade

“Julle is die sout vir die aarde … Julle is die lig vir die wêreld” (Matt 5:13-14).

In sekere sin kan ons sê: Die kerk is daar ter wille van die wêreld. Die teoloog Hoekendijk sê selfs die kerk is ’n voertuig (vehicle) waardeur die genade van God die wêreld ingedra word. Daarom mag die kerk nooit net op homself fokus nie.

Jesus sê presies dit wanneer Hy sê die kerk is die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld (Matt 5:13-14). Die beeld van die sout het minstens twee betekenisse. Eerstens dui dit op die bederfwerende krag van die kerk. Soos sout in voedsel, werk die kerk die verderf, die agteruitgang en verrotting in die samelewing teë. Die kerk, die gelowiges, doen dit deur hulle woorde en gesindheid: by die huis en kantoor, in die politiek, wetenskap en ekonomie …

Tweedens dui die beeld van die sout ook op ’n offer wat gebring moet word. Dit was die gebruik in die tyd van die Ou Testament dat offers aan die Here ingesout moes word om dit as’t ware vir die Here geurig te maak. So maak die kerk die wêreld vir die Here “smaakvol”. So berei ons die wêreld voor vir die Here se koms.

Die mees tragiese wat met die kerk kan gebeur, is dat ons ons roeping sal mis. Want, as sout verslaan het – met ander woorde, as dit geen invloed meer het nie – kan ’n mens dit nie weer sout kry nie. Dan is dit niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi en die mense vertrap dit (Matt 5:13).

Is jy sout – of verslaan?

Die kerk maak die wêreld vir die Here smaakvol en berei die wêreld so voor vir die Here se koms.

Here, voer u genade ook deur my die wêreld in. Amen.

Johan Cilliers

Katedraal van liefde

“As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Joh 13:35).

Die belangrikste kenmerk van Christus se kerk hier op aarde is ongetwyfeld die liefde (1 Kor 13:1). Die kerk moet ’n katedraal van liefde wees (Van Ruler), want die kerk is die plek waar die liefde van God vir sondaars op ’n besonderse manier beleef word. En daarmee saam ook mense se liefde vir mekaar. Juis aan ons liefde word ons as kerk herken. Jesus het gesê: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Joh 13:35).

Daar is ’n legende wat sê die apostel Johannes, die apostel van die liefde wat Jesus se woorde in vandag se vers opgeteken het, het weens sy ouderdom te swak geword om te loop. Hy is deur medegelowiges na die samekomste van die gelowiges gedra. Dan het Johannes ’n vinger opgelig en net gesê: “Kindertjies, ons moet mekaar liefhê.” Dit was sy “preek”.

Die liefde is ons sterkste wapen. Mooi woorde en slim redenasies sal mense nie lank bly beïndruk nie. Maar daar is min mense wat teen die liefde kan bly staan. Laat ons daarom liefhê met die liefde van Jesus, ’n liefde wat nie op eie gewin ingestel is nie, maar wat eerder alles wil gee … selfs tot die dood toe. As mense hierdie liefde verwerp, verwerp hulle nie net vir ons nie. Hulle verwerp vir Jesus …

Vul jou gedagtes, jou optrede, jou gesindheid, vandag met die liefde van Jesus. Die hele wêreld, alle mense, smag na liefde. Van hierdie liefde kan ons die wêreld nooit genoeg gee nie.

Daar is min mense wat teen die liefde kan bly staan.

Here, omskep vandag my huis in ’n katedraal van liefde. Amen.

Johan Cilliers

’n Engel? Ja, jy!

Toe al die lede van die Raad stip na Stefanus sit en kyk, sien hulle dat sy gesig soos dié van ’n engel lyk (Hand 6:15).

Die belydenis wat ons in die wêreld oor Jesus as Christus aflê, is nie net bedoel tot heil van die wêreld nie. Dis ook tot ons eie heil. Dit verander ons ook. Dit versterk ons geloof. Ons verstaan die wonder van die verlossing dikwels eers werklik wanneer ons vir ander daarvan vertel.

Volgens ’n apokriewe boek was die apostel Paulus ’n kort, onopvallende mannetjie met min hare op sy kop. Daar staan egter ook geskrywe: “Die een oomblik het hy soos ’n gewone mens gelyk, die volgende oomblik soos ’n engel.” Toe die eerste martelaar, Stefanus, sy getuienis oor Jesus voor die Joodse Raad afgelê het, het hulle hom sit en dophou en opgemerk dat sy gesig soos dié van ’n engel lyk (Hand 6:15).

Dink daaraan: Vandag kan jy ’n engel vir iemand wees. Vandag kan jy tussen jou kollegas, skoolmaats, klasmaats en sportmaats soos ’n engel lyk. Vandag kan jy in situasies waar daar gevloek en gejok word, waar daar onregverdig opgetree word, die lig van die hemelse laat val.

Vandag! Al is jy ’n gewone mens, ’n onopvallende mannetjie of ’n kleurlose vroutjie. Of al reën die klippe op jou neer. Jy is ’n getuie vir Jesus! ’n Engel. Ja, jy!

Ons verstaan die wonder van ons verlossing dikwels eers wanneer ons vir ander daarvan vertel.

Here, help my om vandag ’n bietjie hemelse lig op iemand te laat val. Amen.

Johan Cilliers

1 2 3 4 5 142