Praat en doen

“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is” (Matt 7:21).

’n Mens kan Christus as Here met jou mond verkondig sonder dat jou lewe daarvan getuig. Want nie elkeen wat vir Jesus “Here, Here” sê, sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hulle wat die wil doen van die Vader wat in die hemel is (Matt 7:21). Praat en doen, getuienis en lewe moet ooreenstem.

Dalk is dit die rede waarom die kerk dikwels so sonder krag in hierdie wêreld is: Ons praat so maklik; ons doen so moeilik. Mahatma Gandhi, die bekende leier van Indië, het eenkeer met die volgende woorde sterk kritiek op die Christelike kerk uitgespreek: “As ek ’n Christen sien wat is soos die Christus wat hy verkondig, sal ek ook een word.” Wat ’n aanklag! Dit laat ’n mens dink dat ’n Boeddhis ons as Christene so tot selfondersoek moet dwing …

Christus moet in al die sfere van ons lewe verkondig word: met woord en daad, met mond en gesindheid. As ek myself ’n Christen wil noem, moet ek dit ook in my huwelik en in ander verhoudings wees, in my huiskring, in my optrede teenoor my werknemers, teenoor die bedelaar voor my deur, teenoor die vrou by die kasregister in die supermark, teenoor die petroljoggie. Ek moet oral laat blyk dat ek deel is van die Christelike kerk. Wie weet, dalk kyk die Gandhi’s van hierdie wêreld vandag juis na jou. Gaan hulle ’n Christen sien? Gaan hulle Christus sien? Gaan hulle Christene word?

“As ek ’n Christen sien wat is soos die Christus wat hy verkondig, sal ek ook een word.”

Here, gee tog dat my dade by my woorde sal pas. Amen.

Johan Cilliers

Jesus is Koning

Verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig (2 Tim 4:2).

Omdat ons onsself ’n “Christelike” kerk noem, is dit vanselfsprekend dat ons sal bely dat Jesus Christus die Here is. Op alle moontlike tye en op alle plekke en in alle omstandighede. Selfs in tye van teëspoed.

Toe Handel sy bekende Messias-oratorium geskryf het, was hy siek en in ’n finansiële krisis. Sy regterarm en regtersy was verlam en feitlik nutteloos. Die pragtige “Hallelujakoor” het op ’n dag in ’n oogwink by hom opgekom. Hy het dit vinnig neergeskryf. Toe dit in 1743 die eerste keer in Londen uitgevoer is, het die volgende gebeur.

Toe die koor die refrein sing: “Die almagtige Here heers, Koning van die konings en Heer van die here,” het koning George II van Brittanje, die magtigste man van die magtigste land van daardie tyd, opgestaan. Die groot gehoor het sy voorbeeld gevolg. Daarmee het die koning en die gehoor erken: Jesus is Koning! Jesus is Here!

Tot vandag toe is dit die gebruik dat die gehoor opstaan wanneer die Hallelujakoor tydens ’n uitvoering van “Die Messias” gesing word.

Waarlik, ons moenie twyfel aan die krag van die evangelie nie. God wil jou ook as kanaal vir sy verlossingsboodskap gebruik. En al is ons belydenis nie so aangrypend en melodieus soos dié van Handel nie, gebruik die Here dit as ’n instrument waardeur sy heil tot by mense kom. “Ons verkondig nie onsself nie,” se Paulus in 2 Korintiërs 4:5, “maar Jesus Christus as die Here en ons as dienaars ter wille van Jesus.”

Moenie moedeloos word nie. Verkondig die Woord, en “hou daarmee vol, tydig en ontydig” (2 Tim 4:2).

God wil jou as kanaal vir sy verlossingsboodskap gebruik.

Jesus, al noot wat ek kan hou, is: Jesus is Here! Neem dit aan as my melodie. Amen.

Johan Cilliers

Feit of fiksie?

“U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Matt 16:16).

Wanneer ons sê ons glo in ’n “Christelike” kerk, beteken dit ook dat die inhoud van ons belydenis Christus die Verlosser is. Die belydenis van Petrus het dit reeds gesê: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Matt 16:16). Dit is op hierdie belydenis dat Jesus sy kerk gebou het (16:18). Daarmee staan of val alles. Hierdie belydenis moet ons met al ons energie en entoesiasme in die wêreld laat hoor. Want dit is waar!

’n Teater en ’n kerk het langs mekaar gestaan. Die teater was aand na aand stampvol, die kerk elke Sondag feitlik leeg. Moedeloos het die predikant eendag aan die hoofakteur gevra: “Hoe kry julle dit reg? Julle bied aan wat fiksie is, wat nie waar is nie, en trek tog groot gehore. Maar ek verkondig wat waar is en nie fiksie nie – en kyk die paar mense wat opdaag.” Die akteur het geantwoord: “Dit is baie eenvoudig. Ek verkondig my fiksie asof dit die waarheid is. Jy verkondig jou waarheid asof dit fiksie is.”

Doen ons dit dalk ook onwetend? Om so onentoesiasties oor Christus te praat dat dit klink of ons die wonder van die verlossing self nie glo nie? Asof dit maar fiksie is?

Waarlik, as die waarheid van die evangelie, van die liefde van die lewende Seun van God, ons weer opgewonde kan maak, sal ons geleenthede begin soek om dit altyd en aan alle mense te verkondig. Omdat dit nie net leë woorde is nie, omdat dit nie fiksie is nie, maar “die krag van God tot redding van elkeen wat glo” (Rom 1:16).

Verkondig die waarheid oor Christus met entoesiasme, want dit is nie fiksie nie.

Here, help my om met entoesiasme en oortuiging te verkondig dat U die Christus, die Seun van die lewende God, is. Amen.

Johan Cilliers

Woordelose getuienis

Dit sal nie eens vir julle nodig wees om ’n woord te sê nie (1 Pet 3:2).

Dit is nie vir ons almal maklik om met groot welsprekendheid van Christus te getuig nie. Dis ook nie nodig nie. Hoor net wat sê Petrus vir die vroue wat met ongelowige mans getroud is: “As … die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om ’n woord te sê nie” (1 Pet 3:1-2). Die omgekeerde geld natuurlik ook.

’n Aangrypende voorbeeld van so ’n woordelose getuienis is dié van die Koreaanse man wat melaatsheid in die ergste graad opgedoen en in ’n Amerikaanse sendinghospitaal opgeneem is. Sy siekte het hom op ’n afgryslike manier aangetas: Hy was verlam; hy kon nie hoor nie; hy kon nie sien nie. Hy het geen vingers aan sy hande en geen tone aan sy voete meer gehad nie. Hy kon nie praat nie, want hy het geen tong, geen tande, geen lippe meer gehad nie. So het hy daar gelê: verlam, doof, stom, blind. Maar daar was nog drie dinge wat hy kon doen: Hy kon aanvoel as iemand in sy kamer inkom weens die trilling van die voetstappe op die vloer. Hy kon sy vingerlose hand nog effens oplig. En hy kon nog onverstaanbare hyggeluide maak.

Die volgende toneel het dikwels daar in daardie dodekamer afgespeel: Elke keer wanneer iemand daar ingekom het, het die melaatse dit aangevoel en sy vingerlose hand opgetel en heengewys na die houtkruis bokant sy bed, weggewys van homself … na sy Verlosser, Christus die Here. Dan het die sterwende melaatse geglimlag, ’n tandlose, liplose glimlag, en opgewonde hyggeluide gemaak.

Niemand wat hom gesien het, het getwyfel aan die krag van sy getuienis nie.

Om goed te kan praat, is nie ’n noodsaaklike vereiste om te kan getuig nie.

Here, heIp my om na U te wys. Al het ek nie vingers nie. Amen.

Johan Cilliers

Beliggaamde blydskap

“Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt 28:20).

Nog ’n element in die belydenis oor die Christelikheid van die kerk is weereens dié van die kerk se andersheid. Die kerk is anders as enige ander vereniging of liggaam. Die feit dat Christus die hoof van die kerk en ons sy liggaam is, is alle rede, ja, oorvloedige rede tot vreugde. Voorwaar, die kerk is die plek waar die vreugde moet oorborrel; die plek waar die vreugde nooit mag ontbreek nie. Want die kerk is “beliggaamde vreugde”, soos Van Ruler gesê het. Juis dit maak ons anders as die wêreld.

Waarin lê hierdie vreugde? Daar is te veel om op te noem: in ons verlossing, hoop, ewige toekoms; in ons roeping, wedergeboorte, verheerliking. Miskien die belangrikste van alles en samevattend: Hierdie vreugde is die gevolg van die teenwoordigheid van die lewende Christus in ons midde. Christus is anders by ons teenwoordig as in die wêreld. Hy is as opgestane en verheerlikte Here verlossend en beskermend by ons, al die dae tot aan voleinding van die wêreld (Matt 28:20).

Aan hierdie sekerheid en blydskap het die wêreld groot behoefte. Want daar is min in die wêreld wat ware, blywende vreugde kan verskaf. Maar ons het dit omdat die Here by ons is. Laat ons dit daarom weggee, deurgee. Kom ons maak hierdie diep vreugde sigbaar in ons samesyn met mense. Kom ons wees vandag verspreiders van vreugde. Kom ons wees beliggaamde blydskap!

Die kerk is die plek waar die vreugde moet oorborrel; die plek waar die vreugde nooit mag ontbreek nie.

Here, ek is meestal so vreugdeloos. Laat my tog weer borrel van blydskap. Ek het so baie rede. Amen.

Johan Cilliers

Hy is die hoof van die kerk

Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan (Kol 1:18).

Ons bely nie net dat ons aan ’n “heilige” en “algemene” kerk glo nie, maar voeg ook by ’n “Christelike” kerk. Kerkhistorici sê dié woord bely niks wesenlik nuuts nie, want dit beteken ook “heilig” en “algemeen”. Buitendien, kan die kerk iets anders as Christelik wees? Is dit nie toutologie nie? Tog staan dit daar! Wat bedoel ons dan wanneer ons sê ons glo in ’n Christelike kerk?

Eerstens en by herhaling: Christus is die hoof van die kerk. Hy is die Een wat die kerk in die lewe geroep het, dit deur die eeue heen bewaar het, en dit eendag ten volle sal verheerlik. “Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan” (Kol 1:18). ’n Troosryke gedagte! Die kerk kan nooit deur die Bose of die wêreld oorwin word nie, want ons is in Christus se hand.

Hieroor kan ons so bly wees dat ons daaroor wil sing: “Hou Christus self sy kerk in stand – vergeefs die hel se woede! As Here aan Gods regterhand regeer Hy ons ten goede” (Ges 218:1).

Tel daarom jou kop op en kyk vorentoe. Sing oor die heerskappy van ons Here. Want die kerk waaraan jy behoort, is Christelik.

Die kerk sal nooit deur die Bose oorwin kan word nie.

Here, wees ook my Hoof en Herder. Amen.

Johan Cilliers

Reddingsinstansie of klubhuis?

Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! (2 Kor 5:20).

Ons is nie net ter wille van onsself Christus se “kerk” nie. Ons word gered om vir ander mense te vertel van sy redding sodat hulle dit ook kan smaak. Die kerk is God se reddingsinstansie in hierdie wêreld. Soos ’n noodreddingstasie wat langs ’n ruwe kusstrook gebou word om skepe wat in gevaar is by te staan of drenkelinge van ’n gewisse waterdood te red.

Die tragedie is dat die kerk dikwels vergeet dat hulle ’n reddingsinstansie is en hulle dan verbeel die kerk is ’n gerieflike klubhuis. Dan raak die personeel van die reddingsinstansie heerlik op hulle gemak. Hulle skaf vir hulle die beste binneveermatrasse, verhittingstelsels en televisiestelle aan. Kort voor lank sit die kerk vasgenael voor hulle gunsteling-TV-program, knus gekoester in die warm kringetjie van hulle klubhuis … vas aan die slaap op die sagte matrasse. En bo die geselligheid word die gedreun van die storm en die geroep van die drenkelinge nie meer gehoor nie.

Nee! God het my en jou gered om in sy Naam op te tree as “reddingswerkers” tot die verlossing, om mense op die Verlosser te wys. Ons tree op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op mense doen. Ons smeek mense namens Christus om hulle te laat red: “Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!” (2 Kor 5:20).

Karl Barth het gesê ons mag nie die redding wat God aan ons gegee het in ons sak steek en daarvan vergeet nie. Ons moet dit deel, uitdeel, weggee! Hoor jy die geloei van die storm? Die geroep van die drenkelinge?

Ons mag nie die redding wat God aan ons gegee het in ons sak steek en daarvan vergeet nie.

Here, stuur my. Al is dit die stormsee in. Amen.

Johan Cilliers

God is Lig (2)

Die ballinge wat die heerlikheid en lig van God ontvang, word soos volg in Jesaja 60:5 beskryf: “Jy sal dit sien en van vreugde straal, jy sal bewe van blydskap, want die rykdom van die see word joune, die skatte van die nasies kom in jou besit.” Die 1953-vertaling sê: “Dan sal jy dit sien en straal van vreugde, en jou hart sal ontroer en verruim word.”

Die vreugde van God se redding en heerlikheid lei nie daartoe dat ons alles vir onsself vashou en te klein kyk en alles vir ons neem nie. Dit maak ons dankbaar en vrygewig en laat ons oophand leef. Dit gee ons harte wat wil bars van dankbaarheid en nuwe hoop – omdat ons skielik ’n groter toekoms raaksien.

In Epifanie word ons harte genooi om uit hulle nate te bars, om te hoop sonder einde, om eerbied te hê vir God se ingrype en heelmaak. Dié wat die lig sien, word draers van hoop. En dié God wat te midde van die apatie en wanhoop van ballingskap mense se harte kan verruim en ontroer, doen dit vandag steeds deur sy Gees.

God is Lig (1)

In die donkerte van hulle gemoed spreek God deur die profeet woorde aan die Jode wat so pas uit die ballingskap teruggekeer het. Woorde van lig. Lees jy die teks van Jesaja 60 in verskillende vertalings, sien jy ’n opeenhoping van sinonieme: “verlig”, “jou lig kom”, “heerlikheid”, “stralende opgang”, “straal”, “shine”, “light”, “glory”, “brightness of your dawn”, “radiant” …

Wie is die bron van hierdie lig? En daarom ook die bron van hulle hoop en hulle nuwe toekoms? God. God self is die Lig.

In Jesaja 60:19-20 word God as die bron van lig verder onderstreep: “Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig gee nie, snags sal dit nie die maan wees wat oor jou skyn nie: die Here sal vir jou ’n ewige lig wees, en jy sal roem in jou God. Jou son en jou maan is die Here, Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie. Die Here sal vir jou ’n ewige lig wees, jou dae van smart is verby.”

Dat ons lig uit ’n ander Bron kom, gee aan ons hoop. Dié Lig bring ommekeer, maar hierdie ommekeer vra ook van ons ’n nuwe ingesteldheid.

God is Lig (3)

Ongelukkig is dit wel so dat ons in tye van wanhoop en bedreiging ons harte vernou en verklein. Dit word tye wanneer ons spreekwoordelik ons lig onder die maatemmer wegsteek. Tye wanneer ons skanse om onsself bou om ons te beskerm en die ander uit te hou.

Tye van wanhoop is tye wanneer ons geneig is om nader te kyk. Die profeet nooi die inwoners van Jerusalem, en vir ons, uit om juis in sulke tye verder te kyk. Hoop het tog daarmee te make om teen jou persepsies en ervarings in te droom en te glo. Hoekom? Omdat jy op die Bron vertrou. Die Bron wat skeppend en verlossend kan werk, ook in die duisternis, want vir God is ook duisternis lig.

Daarom moet ons gedurig herinner word, deur die Woord en die bymekaarkom van gelowiges, dat God altyd en voortdurend reddend en skeppend teenwoordig is. Ons mag dit nie vergeet nie. As ons onthou, leef ons anders. En dan word ons lig en hoop vir ander.

1 2 3 4 5 6 142