Tweede bekering lyk só (2)

Ek weet, die Here is groot, ons Here is verhewe bo al die gode. Alles wat die Here wil, doen Hy, in die hemel en op aarde, in die see, in al die oseane. Hy laat die wolke opkom oor die horison, Hy maak die weerligstrale vir die reën en bring die wind te voorskyn (Psalm 135:5-7).

Die tweede bekering verander ons manier van kyk en praat.

Ná my eerste bekering het ek nog op dieselfde manier gepraat. As almal om die braaivleisvure negatief was oor die toekoms, het ek dit geëggo. Maar nou leer die Gees my om sy werk tussen die lyne en in die donker raak te sien. Nou leer ek om die beste van almal te verwag en met hoop te leef. Nie dat ek dit elke dag regkry om anders te praat en te kyk nie, maar dit is my nuwe uitdaging op my geloofspad.

Die tweede bekering bevry my ook al meer van my beursie. In die eerste fase van my geloof het dit oor my amptelike dankoffers gegaan – een keer per maand in ’n blitsvinnige saketransaksie. Die res van die maand, wanneer iemand my hulp gevra het, kon ek wegkom met die moeder van alle geestelike verskonings: “Ek kan nie help nie, want ek gee by my kerk.” Nou besef ek die Here vra elke dag alles! My tyd, my energie, my geld, my hele lewe is in diens van die Here. Hy kan enige oomblik op my knoppie druk om te gee, te deel, te bid, te dien. Nou loop Jesus in vermomming oor my pad in die vorm van armes, vernederdes, werkloses …

Die tweede bekering het my geleer kleiner is groter en voor is agter. Aanvanklik wou ek net groot dinge vir die Here doen. Toe ontdek ek dat Hy my eintlik net toelaat om hierdie “groot” dinge te doen omdat Hy my nog nie met die kleiner dinge kan vertrou nie. Jesus self het gesê ware grootheid is in kleinheid geleë. Alles is andersom en onderstebo in sy koninkryk. Ek het Jesus nie regtig geglo nie. Ek het gestreef na voor, meer, groter, beter, sterker, wyer …

God word egter nie vasgevang in daardie ruimtes wat ons vroom herdoop tot “die huis van die Here” nie. Ook word Hy nie ingeperk tot daardie belydenisse waaroor kerke veg nie. Ook word Hy nie in ’n hoek geverf oor die vraagstukke oor die doop en seksualiteit nie. God is die Almagtige. Hy is die Here van hemel en aarde. Hy is so vry dat Hy dit kan hanteer as ons van mekaar verskil. Solank ons Hom raaksien in ander en Hom dien deur hulle te dien.

Almagtige Here, U is God oor hemel en aarde en vry om te doen soos U wil. Dankie dat U aanhou om ons te vorm, selfs ná ons bekering. Help my om U al hoe meer raak te sien in die mense rondom my, selfs wanneer dit die grense van my gemaksones en verstand uitdaag. Amen.