U gees

Lees 2 Konings 2:1-15a.

“Mag daar tog ’n dubbele deel van u gees op my kom!” (v 9).

Dit is wat Elisa van sy leermeester wou hê. Kort voor die befaamde Elia se laaste reis, die een hemel toe, vra hy sy leerling: Wat moet ek vir jou doen voordat ek weggaan? En Elisa roep uit: Ek wil u gees hê! Ek wil u gees in ’n dubbele mate hê!

Vreemd, nie waar nie? Ons sug soms oor mense vir wie ons bewonder en sê: Ag, as ek maar net ’n kwart van sy geduld kon hê … Gee my net die helfte van sy verstand … Net ’n greintjie van sy goedheid sal genoeg wees vir my!

Elisa vra meer van Elia. Dubbeld. ’n Oorvloed. Nie omdat hy snoep is nie; dit is omdat Elisa so onmagtig voel, so desperaat oor Elia se vertrek wat onontwykbaar voor hulle lê. Oor dié angstigheid lees ons uitvoerig in hierdie fassinerende verhaal: oor Elisa wat die ander profete en hul onheilsboodskap herhaaldelik stilmaak, oor sy desperate vasklou aan sy leermeester.

Toe doen Elia ’n finale wonderwerk: die laaste toneel voor sy skouspelagtige hemelvaart. Elisa, die opvolger, sou hierdie wonderwerk spoedig herhaal, en vir almal was dit die teken: Elia se gees rus inderdaad op sy leerling.

Of dit toe “’n dubbele deel” was, sal ons nie weet nie. Ons weet wel van die angs wanneer ons ’n mentor wat vertrek het se skoene moet volstaan. Van die desperate soeke na bevestiging dat ons tóg daarin slaag.

Sedert Pinksterdag is ons begeerte ook nie sommer na enige gees om ons hiermee te help nie. Ons wil die Gees van Christus hê. Van Hóm wil ons soveel moontlik hê. Hy moet ons vul, niks minder nie.

Gees van God wat lewend maak, vul my meer en meer. Troos my, sterk my, leer my, lei my.

Barend Vos