U geheue, en myne

Lees Psalm 25:1-7.

Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie (v 7).

Ons almal het ’n geskiedenis. ’n Lang storie wat ons gebring het tot waar ons nou is. Een wat ons soos ’n skaduwee volg en soms behoorlik agtervolg met dié knaende vraag: Ag, hét ek maar … Of: Ag, het ek maar nié …

Ons dra hierdie geskiedenis, dié verhaal-tot-op-hede, soos ’n ongemaklike stuk bagasie met ons saam. En soms is dit ons be­lewenis dat hierdie drag, namate die jare aanstap, al hoe swaarder word. Dat dit ons toenemend afrem. Ja, dan steier ons behoorlik onder die ellendige besluite wat ons deur die jare geneem het. Dit los ons nie uit nie. Die pakkaas bly pla, hou aan fluister, soos in ’n nare droom: Hoekom het jy …?

Dan is daar die besluite wat ons toe nié geneem het nie. Toe ons gesê het ons is nog nie gereed nie, dit moet eers wag. Gee eers kans! het ons uitgeroep. En toe glip die kans deur ons vingers.

Nou dra ons die gevolge van ons doen en late. En ons dra swaar. Wie sal ons help? Wie sal ons van hierdie doodsbestaan verlos?

Die psalmdigter sê: God se trou, sy goedheid. Dít, Hý, sal ons bevry.

Maar hoe doen Hy dit? Wat presies vra ek Hom?

Dat Hy moet vergeet. Dat Hy wat van altyd af alles van my weet, wat die hare op my kop getel en my naam in sy handpalms gegraveer het, my onbesonnenheid sal vergeet. Dat Hy nooit ooit weer daaraan sal dink nie.

Ek hoop nie dit is te veel gevra nie, Here! Ek wil dan boonop vra: Dat U mý sal help om te vergeet. Dat U my verlos van my gewete se loodswaar aanklag.

Barend Vos