U sien dwarsdeur my!

Lees Psalm 139:1-2.

Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom (v 2).

Here, hier is nou ’n saak wat vir my swaar is:
Dit gaan oor U wat álles van my weet.

Sal U dié intieme kennis ooit teen my gebruik?
As verswarende omstandighede wanneer ek
voor U verskyn? Ja, Here, ek wil asseblief weet
of U wat ook my gedagtes ken – my gedagtes! –
my daaroor sal veroordeel. As geweeg en te lig
bevind. Te leeg bevind. En té vol van die
dinge wat ek weet U nooit sal goedkeur nie.

Ag, en soms wonder ek of U dit nie maar kan keer nie.
Van my, u beskermling, wil wegkeer nie.
Dit tog filter, Here – hierdie gedagtes. Sensor. Soos vir ’n kind.
Want U sien dit mos van ver af aankom, en U wéét …

Ek weet nie aldag hoe ek dit het nie.
Ek wil so graag goed wees; positief dink.
My kop met opbouende dinge vul.
Maar as ek my kom kry, lê dit my voor,
oorrompel dit my weer. Word ek, ellendige mens,
oorval deur dit wat my swakhede ken:
die een of ander soort boosheid.
En wat ek dán dink, het omtrent niks te doen
met enigiets wat by u kinders pas nie.
Dit is ’n eindelose kringloop.
Wie sal my hiervan verlos?

Ek is tog nie die eerste een wat hierdie doodsbestaan
verwens nie, Here, en ek sal ook nie die laaste wees nie.
Maar U wat van begin tot einde alles van my weet; U wat
dwarsdeur my sien, moet asseblief nie so gewalg word
dat U moed opgee en my alleen los met my gedagtes nie.

Bevry my, Here!
Knip die naelstring wat my daaraan bind.
Amen.

Barend Vos