U verander alles

Lees weer Psalm 30.

Ek was in rou, maar U het my van vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek (v 12).

Die dag as my lewensgeskiedenis opgeteken word,
Here, sal U en u dade die vernaamste plek daarin inneem.
Soveel wonderwerke wat U darem gedoen het …
En ek was keer op keer aan die ontvangkant daarvan.
Ek kan bladsye vol net daaroor skryf. Hele hoofstukke
daarmee vul. Prentjies daarby teken. Voorbeelde noem.

Wat my altyd sal bybly, is die manier waarop U dinge omgekeer het.
Die opperste verleenthede wat U in gulde geleenthede verander het.
Die reguit houe met die krom, krom stok.
Die wiel wat toe wél gedraai het –
met U aan die stuur van sake.

Dan is daar steeds mense wat wonder of U omgee.
Of U hoegenaamd bestaan. Hulle wil alles aan “toeval” toeskryf;
die “noodlot” krediet gee. Hulle sê “per ongeluk”.
Of: “Soos die duiwel dit wou hê …”
(Verbeel jou: hý!)

Pleks dat hulle dié eenvoudige formule onthou:
“Deur die genade van die Here …”
Want dit ís so dat u genadige oor elke keer gehoor het
toe ek geroep het. U genadige oog het gesien toe ek oorval is.
U genadige hart het gebreek toe ek stukkend was.
En dan het U opgetree, vir my ingetree –
en álles genadiglik anders gemaak.
Dit is mos die storie van my lewe, Here!

Maar noudat ek aan alles terugdink, nou besef ek:
Ek moes minder gewonder het
en minder simpel en dikwels selfsugtige vrae gevra het.
Ek moes meer vir U gesing het.

Is dit te laat?
Is lof aan U ooit betyds?
Goed, dan. Hóór my lied, Here:
Halleluja! Halleluja!
Halleluja, Here!
Amen.

Barend Vos