Vader

Lees Amos 7:1-6.

“Here my God, vergewe tog vir Jakob! Hoe sal hy staande bly? Hy is klein!” Die Here het toe van sy voorneme afgesien (v 2-3).

Hoe goed ken ons dit nie: Ouboet wat vir Kleinboet in die bres tree en mooi vra dat Pa asseblief tog nie moet doen wat hy gesê het hy sal doen nie.

Maar Pa’s sien nie maklik af van aangekondigde straf nie. Kleinboet moet ’n slag ’n les geleer word; só kan dit nie aangaan nie!

God is nie die gewone soort pa nie. Baie jare ná hierdie Amospleidooi sou Jesus onder meer sê: “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is …” (Matt 7:11).

En ons kan Hom maar glo, hierdie Jesus. Hy wat meer as enigeen van sy Vader weet. Daarby ken ons tog Jona se storie van God wat van plan verander het (Jona 3:9-10). En Hosea s’n, waar die Here gesê het sy liefde brand sterker as sy woede (Hos 11:8-9). En Moses s’n, wat ná die goue kalf-skandaal mooi gevra het dat God tog nie die woestyntrekkers moet uitroei nie en Hy toe van sy oorspronklike voorneme afsien, sonder opgawe van redes (Eks 32:14). En wat van Abraham, wat Hom “afstry” oor die ellendige Sodom? (Gen 18:23-33).

Ja-nee, ’n gans ander Vader is Hy: Hy verander van plan omdat sy liefde onveranderlik is. Daar was mos net die een keer toe Hy sy voet neergesit, sy kop geskud, en uiteindelik sy gesig weggedraai het … Jy onthou mos Getsemane se mooivra, en toe die verlate Seun aan die kruis? Jy weet mos ook hoekom Hy Hom daardie keer nie laat ompraat het nie?

Ek weet, Here! U het u Seun verlaat, ter wille van u ander seuns en dogters.

Barend Vos