Vanaf ‘n eerste bekering na ‘n tweede

Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid (Rom 8:14-17).

Romeine 8:26 is een van daardie kanon-tekste wat alles in my lewe stukkend geskiet het. Hierdie een vers was presies die regte dinamiet om my los te skiet uit die godsdienstige vestings waarin ek vasgemessel was. Ek het skielik gesnap God is anders as my vooropgestelde idees oor Hom. Hy is nie ’n despoot met ’n sementagtige plan vir my lewe wie se hart breek as ek nie sy bloudruk haarfyn uitleef nie. God is die God van genade. Hy word nie onkant gevang as ek my eie idees van godsdiens haarfyn uitleef nie. Of as ek nie langer kan (of wil) voldoen aan ander se verwagtings van hoe ’n “vroom godsdienstige” behoort te lyk nie. Of as ek bepaalde godsdienstige stelsels nie langer probeer dien om ’n salaris te kry of die “business as usual”-gebruike van bepaalde instellings in stand wil hou nie.

Wat ’n ontdekking was dit dat God nie in ons klein godsdienstige boksies inpas nie! Dit was my tweede weergeboorte. Ja, ek het Jesus die eerste keer ontmoet toe Hy my opgesoek en my na sy kant van die draad toe oorgetel het. Maar ek het spoedig hierdie einste ontmoeting in vroom godsdienstige watte verpak en van Jesus ’n voorspelbare, godsdienstige figuur gemaak.

Tydens my eerste bekering het ek my hart vir Jesus gegee en min of meer aangegaan met my lewe soos gewoonlik. Ek kon in die week heel goed sonder Jesus klaarkom. Hy moes my planne en ideale maar net tydens my stiltetyd seën. Ná my eerste bekering het ek gedink ek moet die Here tevrede stel deur meer kerk toe te gaan, langer Bybelstudie te doen en te bid, elke week na ’n paar ekstra preke te luister, my rockmusiek weg te gooi en net geestelike musiek te luister. Ek het werklikheidsvreemd geraak. Alles wat verkeerd is met die res van die wêreld was op my radarskerm. Ek het verander in ’n sonde-kenner, eerder as ’n God-liefhebber.

Voordat jy my verkeerd verstaan, dit is lewensbelangrik om die Bybel te lees, kerk toe te gaan en die sonde teen te staan. Maar dan moet dit deel vorm van ’n verhouding met Christus, en nié omdat jy dink gehoorsaamheid aan God red jou nie. Laat jou eerste bekering jou lei na jou tweede bekering en gee jou oor aan jou Abba Vader, die God van genade wat nie in ons boksies inpas nie.

Here, help my om ’n God-liefhebber te wees, en nie ’n sonde-kenner nie. Dankie dat U soveel groter is as wat ek kan verstaan. Dankie dat ek U deur u genade kan ken as Abba, my Vader wat nooit in my klein godsdienstige boksies kan inpas nie. Amen.