Verbintenis

Lees Rut 1:1-18.

“Ek lê ’n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei” (v 17).

Ons ken dié soort verbintenis; dit word in ons tyd boonop heel amptelik wanneer twee mense met mekaar trou. Of dit nou in dié presiese woorde gesê word of nie – die idee is eenvoudig: niks en niemand sal tussen ons kom nie. Dapper woorde …

Rut se uitspraak sou ikoniese status verkry juis omdat almal reeds weet hoe dié storie gaan eindig. Maar in die hitte van die stryd is dit nogal ’n gewaagde ding om te doen, om jou op hierdie omvattende manier aan iemand anders te verbind. Dan boonop jou skoonma.

Ons kan gerus ’n oomblik vertoef by skoonmoeder Naomi se vasbeslotenheid om haar skoondogters te laat afsien van hul vaste voorneme om saam met haar die bitter terugtog Jerusalem toe aan te durf. Twee keer gee sy hulle goeie redes hoekom hulle liefs moet agterbly. Twee keer bars die skoondogters in trane uit. Eers dán doen Orpa die verstandige ding en groet vir Ma.

Rut? Nee, so oortuigend soos Ma se argumente is, so seker is Rut van haar saak, “want waar u gaan, sal ek gaan”. Én, verbyste­rend, “u God is my God” (v 16).

Sy verbind haar aan die God van haar skoonmoeder. Wat weet sy nou eintlik van Hom af? Hoe sal sy byvoorbeeld weet dat Hy alles van haar weet, dat Hy Hom reeds aan haar verbind het?

Dat Hy groot planne vir haar het? Dat Hy van die begin af ge­weet het hoe dié storie sou eindig, omdat niks en niemand tussen Hom en sy kinders kom nie? Dat juis ook nie die dood ons van Hom skei nie?

So werk U, Here. So verbind U mense aan U. U planne vir ons gaan ons verstand te bowe.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: