Verbintenis

Lees Genesis 17:1-7.

“Dit is ’n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag” (v 7).

Die Here se verbintenis met sy kinders berus nie op hul vroom­heid of getrouheid of godsvrug nie. Hy is aan sy kinders verbind omdat Hy so sê. Omdat Hý hierdie verbintenis met hulle aangaan.

By Abraham was daar hieroor geen misverstand nie; hy het im­mers geweet wie hy is en waar hy vandaan kom. Hoe die Here hom geroep en aan hom ’n nuwe land en nuwe moontlikhede gegee het.

Veral, verál, het Abraham geweet wie die Here is. Wie Hy vir hom en sy mense is: die Toekomsmaker, die Hoopgewer.

En nou, te midde van hierdie dramatiese bevestiging van die Here se verbintenis aan hom en sy mense, het Hy boonop vir Abraham ’n nuwe naam gegee. ’n Hoorbare, herkenbare verseke­ring van die verbintenis wat Hy, die grote God, met hierdie mens aangaan. Eenvoudig, nie waar nie? En ingrypend. Want wanneer Hy vir Abraham op sy nuwe naam roep, sal hierdie verbondskind sonder twyfel weet: Ek is Syne.

Hy hoef dus nie meer in die nuwe land te probeer naam maak nie; sy nuwe naam is aan hom gegee. Hy kan nou bloot vanuit hierdie sekerheid in sy nuwe toekoms gaan leef. En weet: Ek is onvervreembaar aan God verbind.

Hierdie geskiedenis bevry ook ons, die Abrahamskinders, van ons wanhopige probeerslae, al ons dapper pogings. Ons behoort aan Hom, Hy het ons aan Hom verbind. Hy het so gesê en so sal dit wees en bly. En watter Godskind sal dit waag om hieroor te stry?

Here, ek dra trots en dankbaar die naam wat U my gegee het. Ek heet Kindjie. Dit is mos die naam waarop U my roep.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: