Lees Psalm 95:8-11.
“Veertig jaar lank het Ek ’n weersin in daardie geslag gehad, Ek het gesê: ‘Hulle is ’n moedswillige volk, hulle wil my paaie nie ken nie’” (v 10).
As ons maar wou luister, Here;
as ons net ons oë wou oopmaak;
as ons nie ons ore gesluit het vir u waarskuwings nie;
as ons tog nie die woestyn as ons beloofde land omhels het nie;
as ons nie tevrede teruggesit het
en ons laat mislei het deur blink en breedsprakige leiers
en hul goue kalwers nie –
dán sou ons nie die bitter water moes drink
en deur giftige slange gekonfronteer gewees het nie.
As ons tevrede was met die daaglikse brood
wat U getrou voor ons uitgestrooi het saam met die oorvloed vleis
wat saans op ons tafel geland het;
as ons u gebooie gehoor en getrou nagekom het;
as ons dankbaar genoeg was vir u sorg
en u seën in ’n dorre land met min skaduwee –
dán sou ons nie ons siel
vir ’n kruithoring lensiesop verkwansel het
en ons beursies met bloedgeld volgestop
en voor slimjanne se vingerwysings en bangmaakstories
geswig en hul oorlogspraatjies vir soetkoek opgeëet het nie.
As ons ná die bevryding, Here, net minder
gekerm het oor alles wat ons moes agterlaat
en met groter geloofsmoed uitgesien het
na ’n nuwe toekoms vir ons en ons kinders;
as ons die wolk wat voor ons uitgetrek het,
dag en nag gevolg het sonder om te murmureer;
as ons bloot na U en u profete geluister het –
dán sou ons nie nou,
veertig jaar te laat,
gesit het waar ons nou sit nie.
Dan sou dinge anders gelyk het
in hierdie land van melk en heuning.
Amen.
Barend Vos