Verligting

Lees Psalm 107:21-22.

Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen (v 21).

Here, soms is “dankie, Vader!” nie voldoende nie.
Dikwels druk dit nie die omvang van ons verligting
genoegsaam uit nie. Om die waarheid te sê, dan
is blote woorde, uitroeptekens en al, ontoereikend.

Maar ook ons beste liedere neig soms om gemaklike,
goedkoop lof te wees. Ja, om “dankie, Vader!” te sing
en dán die saak as afgehandel te beskou, verkleineer u
verlossingswerk. En dit terwyl ons – ten minste U en ek –
presies weet wat my redding alles behels het:

Hoe diep en hoe ver en wyd
u arms moes reik om my uit
die duisternis te trek.
Hoe swaar dit was,
hoeveel tyd dit gekos het
en hoeveel trane geloop het.

Hoe ek, dikmond en domastrant,
my jou werklikwaar teëgesit het.
Hoe ek my teen vryheid verset het.

Nou nog, Here, betrap ek my soms
dat ek heimlik wonder:
Hoe sou dit gewees het …?
Hoe sou dinge verloop het as U nie ingegryp het nie?
Stilletjies verlang ek selfs na die indertydse groen
gras aan die draad se anderkant, daardie skadukant.

Maar ek weet, Here, dit is veilige, skadelose gedagtes
wanneer jy deur die genade na die lig teruggebring is.
Wanneer jy hier aan die duskant sit en stroopsoet smul
aan die daaglikse, heerlikste vrugte van jou vrymaking.

En soms staan daar, spontaan, ’n ou, ou wysie
in my verligte hart op en borrel by my mond uit
en verdryf al die lawwe gedagtes na die varkhok
van my herinneringe. Waar hulle hoort. En sal bly.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: