Vermaan én verkondig

Lees Lukas 3:15-18.

Ook oor baie ander dinge het hy dikwels die volk vermaan en die goeie boodskap aan hulle verkondig (v 18).

Nee, ek is nie die Gesalfde wat van God af kom nie, sê Johannes. Daardie Een het oneindig meer gesag as ek. Hy sal dinge op ’n ander manier doen as wat ek dit doen. Hy is in alle opsigte my meerdere, “en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie” (v 16). So borduur hy voort, én, skryf Lukas, vermaan hy die mense en verkondig die goeie boodskap. Vermaan en verkondig. Bring die blye boodskap én help reg. Evangelisering én teregwysing. In een asem. Kan dit só werk?

Klaarblyklik, ja. As gelowiges mooi kyk, sal hulle sien die Ge­salfde sou dit ook so doen. Hy gooi die koninkryk se deure wyd oop, en sê dit is moeiliker vir rykes om daardeur te gaan as wat dit vir ’n kameel is om deur ’n naald se oog te kom. Nie elkeen wat “Here, Here!” uitroep, sal die koninkryk sien nie, maar net dié wat die Koning se wil doen. Wie nie aan die geringstes goed doen nie, is nie belangrik genoeg vir die koninkryk nie.

’n Skerp swaard met twee snykante, hierdie woord, hierdie evan­gelie-van-die-koninkryk. Vir baie mense is dit een te veel. Daar is hulle wat ’n eenduidiger boodskap verkies – oordeel, wraak, woede. ’n Toornige, jaloerse God laat hul bloed bruis en hul oë blits.

Dan is daar dié wat wil hê dat die Koning glimlaggend en ska­deloos in sy sagte stoel in die hoek bly sit. Sal antwoord as daar met Hom gepraat word. Deurlopend die rol van die vrolike Kers­vader sal speel.

Al twee hierdie prentjies is karikature. Lagwekkend én weer­sinwekkend.

U leer my dat mý waarheid nooit die volle waarheid is nie. Help my reg, Here!

Barend Vos