Lees Psalm 109:21-31.
Húlle vloek my, maar U sal my seën. Hulle kla my aan, maar hulle sal verloor (v 28).
Die prentjie wat in die laaste deel van Psalm 109 uit dié sukkelende woorde kom, is hartverskeurend. Hoor dan: “My knieë knak al … my liggaam is uitgeteer en maer. Ek het die spot van die mense geword …” (v 24-25).
Ja-nee kyk, as dinge sleg gaan, dan gaan dit hondsleg! Dit is ’n bedroewende stand van sake. Want daar is seker min dinge wat ’n mens so magteloos laat voel soos vals beskuldigings en leuens, soos mense wat jou sonder enige klaarblyklike rede aanval. Jy bid vir hulle; hulle vloek jou. Jy gee liefde; hulle spoeg haat (Ps 109:2-5).
Boonop kom hulle met ’n uitgebreide reeks vervloekings: “Stel ’n misdadiger aan as sy regter … Laat sy lewe kort wees … Mag sy kinders wees word … Laat sy kinders as bedelaars rondswerf en tussen die puinhope van hulle huise kos soek” (Ps 109:6-10). Ensovoorts.
Gelowiges, juis ook verontregte Godskinders, het maar een verweer teen sulke sinnelose onredelikheid: hul Here. Syne is die een adres waar hulle kan gaan kla en weet dat hulle aangehoor sal word. Soos kinders maar maak, kan hulle na hul Vader toe hardloop. Kan hulle uitroep: Ek sal my Pa gaan sê!
Daar is dus van altyd af dié vraag: Wanneer hou ek op met liefhê? Wanneer skort ek my gebede vir sulke mense op? Daar kom tog sekerlik ’n punt waar die grense van redelikheid onomkeerbaar oorgesteek word?
Dit is niemand minder nie as Jesusvolgelinge wat dit vra, ten spyte van hul Voorganger se sterwenswoorde: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk 23:34).
Vader, U ken hul naam en adres. U sien hul haatlike optrede. U ken ook my onvermoë om te vergewe. Help my!
Barend Vos