Verwagting

Lees 2 Petrus 3:8-13.

Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor … ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers (v 12-13).

Petrus skryf hier om die spotters (“En wat het nou geword van die belofte van sy wederkoms?” – 2 Pet 3:4) op hul plek te sit, en die wagtendes te bemoedig (“… Hy is geduldig met julle …” – v 9).

Die wagtendes, ja. Hulle wat elke dag leef met die hoop op ’n beter wêreld. Hulle wat sukkel om hulle nie ook oor te gee aan die uitsigloosheid van diegene wie se lewe net om hul eie belange en begeertes draai nie (2 Pet 3:3).

Presies hoe lééf ’n mens met verwagting? Is dit nie maar bloot ’n fraai teologiese frase wat geleerdes graag gebruik nie? En as hulle “amen” sê, dan weet jy steeds nie hoe dit werk nie?

Hoor dan wat sê Petrus: Leef met oop oë – speurend na die tekens van die nuwe hemel en die nuwe aarde. Leef met ’n oop hart – soekend na die wil van God. Dan sal die dag van die Here wat “so onverwags soos ’n dief kom” (v 10) jou nie onverhoeds betrap nie.

Dan is die wagproses ook nie ’n ontvlugting uit die werklikheid of ’n onrealistiese verlange na ’n “pie in the sky when you die” nie. Dan is dit om hierdie lewe en sy geleenthede entoesiasties aan te gryp en blinkoog te soek na waar jy God se wil kan doen. En om só self tekens van die nuwe hemel en die nuwe aarde op te rig.

Leer my, Here, om gedurig op my tone te wees – gereed om te help, reg om te gaan as U my stuur. Én nuuskierig, met my nek gerek, om U te sien.

Barend Vos