Vir die wêreld, ’n nuwe lied

Lees Psalm 96.

Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here, sing tot eer van die Here, almal op aarde! (v 1).

Here, ek het agtergekom dat ’n nuwe lied
aandag trek. As daar dus vir U só ’n lied
gesing word, sal dit ook so wees:
Mense sal dit oraloor hoor; dit reik oor grense heen.
Dit sal weerklink tot bo in die hemel
en tot in die dieptes van die see.
Die wolke kaats dit wêreldwyd,
die golwe dra dit na alle kante.

Die woorde hoef nie vertaal te word nie;
ook die wysie is universeel.
Alle mense met bloot die geringste
aanvoeling vir wat groter is as hulleself,
sal dit sonder belemmering aanhoor.
En, wie weet, spoedig begin saamneurie.
En later uit volle bors dié lied sing.

Eintlik is dit maklik om mense – ook vreemdes –
so ver te kry om saam te sing:
U wys U mos só dat elke oog U kan sien –
dié wat ver kan kyk, sien U daar;
en dié wat net naby sien, gewaar U hier.

Hier, daar, en oral is U.
Bekend, geëer, geliefd.

Daarom, liewe Heer, net nog dít:
As U reken dat ons onnodig hard sing
– U is tog binne hoorafstand! –
weet dan dat dit nie ons manier is
om luidkeels u aandag te wil trek nie.
Ons wil bloot sing dat die kranse antwoord gee;
dat die dooie klippe dit nie hoef uit te bulder nie.

Dat al wat leef en beef ons hoor
en dit dalk oorweeg om
by ons koor in te val en te jubel:
“Sing vir die Here, o ganse aarde!”
Amen.

Barend Vos