Vir hierdie nuwe jaar

Lees Psalm 1.

Waarlik, die Here lei die regverdiges op hulle pad, maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang (v 6).

Here, seën my in hierdie jaar wat voor my lê!
Seën my met die vreugde wat ek in u Woord sal vind.
Seën my met die begeerte en die vermoë om dit dag
en nag te oordink sodat ek die uitdagings wat elke dag
op my wag, en die vrese en onsekerhede wat die nag bring,
in u geselskap kan aanpak.

Seën my met die vermoë om te onderskei
sodat ek my nie op twyfelagtige raad sal verlaat nie.
Pla my met u seën, ja, hinder my, maak my ongemaklik
sodat ek al meer ontuis sal voel in die byeenkoms
van die spotters. Dat ek sal opstaan, my sal verskoon,
dat ek desnoods omdraai en ’n ander koers inslaan.

Seën my met die krag wat net van U kan kom,
met die vermoë om steeds te groei, te ontwikkel.
Sodat die vrugte wat ek op die regte tyd sal dra,
tot voordeel, tot genot, van ander en myself sal wees.
En tot eer van U, die Gewer van alle goeie gawes.

Ag, Here, en as ek mag vra … seën asseblief ook hulle
wat in die byeenkoms van die spotters bly sit het.
Hul ligsinnigheid oor die waarheid sal hulle duur te staan kom.
Hulle het gekies om deel van dié bedenklike geselskap te bly.
Hulle besef nie wat die uiteinde van hierdie keuse is nie.
Hulle weet nie wat hulle doen nie.

Ek is nie beter as hulle nie, Here.

Daarom bid ek vir hulle:
Red hulle van hulleself,
soos U my gered het.
En neem ons aan die hand,
elke tree van die pad,
hierdie nuwe jaar tegemoet.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: