Voltydse sendelinge oorkant die pad

“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” “Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ’n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.” (Matteus 16:15-19)

“Hoeveel geestelike gesprekke het jy die afgelope jaar gevoer?”

Ek moet sê, hierdie vraag het my uitgeboul. “Elke gesprek wat ek voer, is geestelik,” antwoord ek.

“Jy is seker nie ernstig nie,” reageer die man.

Toe ek ’n oomblik nadink oor my intuïtiewe antwoord, besef ek dat ek 100% met myself saamstem. “Ek sien die Here as die permanente Eregas in my lewe. Daarom sluit ek Hom nooit uit van enige gesprek nie.”

“Ja,” sê die man, “maar praat jy gereeld met ander mense oor hulle geloof?”

“Nee, nie altyd direk nie,” antwoord ek. “Net so praat ek ook nie altyd oor sport of nuwe boeke of die weer nie, maar wat Jesus betref – ek is nie skaam vir Hom nie. Hy is my Here. En ek hoef nie eers eksplisiet oor Hom te gesels voordat ek van rat kan verwissel van gewone gesprekke na geestelike gesprekke nie.”

Ek probeer om my lewe nie in losstaande kompartemente te leef nie. Dit is dodelik. Ek weet, want ek het dit lank gedoen. Sondae het ek my kerkklere aangetrek en Maandae my werkklere. Ja, ek wou die wêreld bereik, totdat ek besef het ek kan die wêreld net bereik as ek in hulle skoene gaan staan.

Nou is dit my voltydse missie om Jesus te volg en ander uit te nooi na die fees van ’n ewigheid. Ek weet nou my belydenis dat Jesus die Here is, loop hand aan hand met voltydse sendeling-wees vir Hom. Sy wens is nou my bevel. En die Here se wens is dat ek aktief aan diens sal wees vir Hom … aan die oorkant van die pad. Die mentor wat Hy saamstuur, is die barmhartige Samaritaan. By hom leer ek nuwe geestelike vaardighede aan, soos hoe om my program te onderbreek, my hande vuil te maak, my beursie wyd oop te maak, nuwe verhoudings met vreemdelinge aan te knoop en nuwe prioriteite in plek te hê.

Ek is nou ’n voltydse dissipel van Jesus, vermom as iemand met ’n doodgewone dagwerk.

Here my God, dankie dat ek ’n voltydse sendeling vir U kan wees. Gebruik my om u koninkryk uit te bou. Help my om bereid te wees om onderbreek te word deur ander se nood, om my hande vuil te maak, om my beursie wyd oop te maak, om vreemdelinge in vriende te verander, omdat ek volgens u prioriteite leef, nie my eie gerief nie. Amen.