Voor die troon

Lees Daniël 7:9-10.

“Die hofsitting het begin, en die boeke met die aanklagte is oopgemaak” (v 10).

Daniël beskryf sy drome in soveel grafiese – en ontstellende! – besonderhede dat dit vir die hedendaagse leser, bekend met die Openbaringboek in die Nuwe Testament, kompleet na ’n voor­woord van laasgenoemde lyk. Al die Openbaringkarakters is im­mers reeds hier: die monsteragtige diere, vervorm en verwring en vreesaanjaend; die vuur met die vreemde vorme; die miljoene mense; die boeke met die aanklagte. En, les bes, die troon met die Wonderbaarlike daarop, die Een met die spierwit klere.

Die toneel is opgestel, die drama kan begin. Die boeke kan oop­gemaak, die aanklagte gestel en die verdiende loon uitgedeel word.

Daniël sou later vertel hoe bitter bang hierdie drome hom ge­maak het. Hy kan maar weet: vir ons ook. Dit is ’n dralende, op­dringerige nagmerrie. Nee, dit gaan nie sodanig oor die gedrogte nie, ook nie oor die vuur of die skare nie. Dit is die boeke, daardie boeke vol aanklagte waarin alles oopgevlek word.

My naam is daarin. En al die aanklagte teen my. Almal.

Goddank vir die Een op die troon. Hy ken my. Hy weet wat ek gedoen het, wat alles agter my naam staan. Hy ken my verskonings, my ek-het-nie-geweet-nie en my dit-was-nie-my-skuld-nie.

Gelukkig, sal ons nou kan sê, was dit net ’n nare droom. Ge­lukkig is dit verby. Gelukkig het ons wakker geword en dadelik geweet: God is groot. Hy is ook goed. Hy roep sy kinders op hul naam. Hulle is Syne. En Hy het al die skuld op Een gepak wat dit gevat en saam met Hom teen ’n kruis laat vasspyker het.

Moenie bang wees nie, Daniël! Die beste kom nog!

U het gekom, Here Jesus, die heel Beste. En U het betaal. Halleluja!

Barend Vos