Voor my eie deur

Lees Psalm 101.

Ek wil my daaraan wy om opreg te lewe (v 2a).

Haai, Here, kyk waar trek die lewe al!
En ek het nog nie naastenby bereik
wat ek aanvanklik in my visier gehad het nie.
Ek het baie planne gehad, soveel goeie idees.

Nee, dit is nie dat ek nou reeds moed opgegee
of vroeër buitengewone terugslae beleef het nie –
dit is net dat ek nog nie daarby uitgekom het nie.

Dalk moet ek eenvoudiger doelwitte stel;
noukeuriger aandag gee; presieser formuleer.
Wat van: “Ek wil my toespits op ’n onberispelike lewenswyse”?

Ja, niemand moet ’n vinger na my kan wys nie –
opregtheid, dít is waarna ek sal streef.
Om U met ’n onverdeelde hart te dien
en dit in my huis en lewe sigbaar te maak.
Dit sal onder meer die einde beteken
van alle skinderstories in my omgewing –
veral ook die kwaadpraat oor vriende
wat hulleself nie kan verdedig nie.

Aanstelleriges en hovaardiges sal spoedig
uitvind dat hulle nie meer welkom is nie.
Leuens en bedrog is heeltemal uit.

Kortom, Here: Almal – my mense én vreemdes – moet
na my kan opsien en sê: Sy doen en late weerspieël
die koninklike weg; dit is dit werd om na te volg.
Dit is vol belofte van ’n heerlike bestemming.

O, en dit sal ’n daaglikse voorneme wees;
elke dag sal die skoonmaakproses
van voor af moet begin.

Ja, op die maat van ’n loflied
sal ek dan met mag en mening
voor my eie deur begin vee.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: