Lees Josua 5:9-12.
Daardie oggend toe hulle van die opbrengs van die land eet, het die manna weggebly (v 12).
Wie onthou nog die opwinding van daardie eerste oggend, vroeg op die sestiende dag van die tweede maand nadat die Mosesvolgelinge uit Egipte getrek het, toe die grond wit lê van iets wat nie winterryp was nie? Dit was wel fyn vlokkies … maar van wát?
“Wat is dit dié?” het die oorblufte Israeliete mekaar gevra (Eks 16:15). En Moses het geantwoord dat dit brood is, dit wat die Here hulle gee om te eet nadat hulle so gekla het. Dit was wit soos koljandersaad en het soos heuningkoek gesmaak, en die Israeliete het dit “manna” genoem (Eks 16:31).
Vir die res van hul woestyntrek, veertig jaar lank, sou die vroegoggendse koms van hierdie broodkos die tasbare bewys wees van die Here se sorg vir hulle. Ten spyte van al die gekla en gekerm, die ongehoorsaamheid en selfs openlike rebellie.
God sorg, want Hy het gesê Hy sal. En Hy doen dit enduit, lank nadat elke ander voorsiener al sou moed opgegee en belangstelling verloor en kop uitgetrek het. Dié versorging kom net van ’n hoofletter-God af; dit is tog hoekom Hy Voorsienigheid heet.
Voorsienigheid sien ook verder, en beplan vooruit aan ’n droom: Daardie dag toe die manna nie opdaag nie, is daar ander kos. Niks minder nie as ’n droom-ete uit die opbrengs van die land wat aan hulle belowe is.
Dat dit alles rondom hul paasfees gebeur het, moes die woestyntrekkers nie verbaas het nie. Paasfees is immers, in die ou én die nuwe tyd, ’n viering van voorsienigheid. ’n Fees wat jubel: Laat ons eet en drink en vrolik wees, want môre lewe ons!
Liewe Here, ek en my mense eet elke dag uit u hand. Dankie!
Barend Vos