Lees Jesaja 9:2-6
Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word … Vredevors (v 5).
Vir hulle wat in die donkerte geleef het, het daar ’n groot lig opgegaan. ’n Lig tot verligting van die nasies.
Ook vir die nasie wat homself Christelik noem. Ja, juis ook vir hulle wat die Naam van die Gesalfde dra, die Naam van hierdie einste hoofletter-Seun. Voortaan sal Hy heers, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.
Kersfees is veel meer as ’n sentimentele viering vol vrolikhede, dit is oneindig meer as ’n tydelike wapenstilstand en ’n noodsaaklike blaaskans vir mense wat moeg baklei is. Dit is die herdenking van ’n nuwe era wat aangebreek het: die tyd van die Seun wat heers. Hy is vir ons gebore, Hy is deur God aan ons gegee.
Vir Ou Israel het hierdie Jesaja 9-lied ’n eie betekenis gehad; vir ons bevat dit maar een waarheid: God se Seun is hier! En Hy het vrede saam met Hom gebring. Vir elkeen wat vrede verlang, het Hy genoeg gebring – vir hulleself én vir hulle om uit te deel, vir vrede gee én vrede maak.
Hy, die Vredevors, wys sy onderdane hoe om ’n brandstapel te maak van die uniforms en die stewels, hoe om die wapens neer te lê en die vure van haat en verwoesting te blus. In sy ewige vrederyk swaai reg en geregtigheid die septer, en hiér is die Here die Almagtige se onverdeelde trou die leuse.
Vir Ou Israel én vir die nuwe Christennasie het die lig deur die duisternis gebars. Wie sal waag om dit te probeer uitdoof?
U, Vredevors, Immanuel, U heers oor ons, u Israel. U, die Hemelkoning, kom in die volheid van die tyd, kom maak by ons u woning, kom bly by ons in ewigheid.
Barend Vos