Vrese

Lees Markus 9:30-32.

“Die Seun van die mens word in die hande van mense oorgelewer, en hulle sal Hom doodmaak” (v 31).

Maar hulle het hierdie uitspraak van Jesus nie verstaan nie, sê Markus, en hulle het Hom nie daaroor uitgevra nie. Hulle was te bang. Al was dit die tweede keer dat Hy dit vir hulle gesê het.

Dalk was hulle bang om die fout te maak wat Petrus daardie eerste keer gemaak het toe Jesus hom “Satan” (Mark 8:33) genoem het en gesê het hy moet trap. Dalk was dit die groot woorde, die “oorlewer, doodmaak”, wat hulle laat swyg het. Dalk bloot die vrees vir die onbekende en die selfs groter vrees dat wat vir hulle voorlê, niks goeds beloof nie.

Gelowiges was nog nooit goed met die onheilspellende voor­uitsig dat hul volgelingskap hulle gaan kós nie. Dat hulle iewers sal moet betaal vir hul waagmoed om Jesus as Leermeester te hê. Dalk het hulle toe nooit die koste hiervan bereken soos Jesus hulle vooraf aangesê het om te doen nie (Luk 14:28-29).

Noudat dit lyk asof die eise te veel gaan wees, wonder hulle of dit toe wel so ’n goeie besluit was.

Dissipelskap is duur! het ander dissipels ons al herhaaldelik gewaarsku. Mense wat die hoë prys betaal het vir hul keuse om die Seun van die mens te volg, het martelare geword, bloedgetuies. Dít is genoeg om enigeen wat volgelingskap oorweeg, bang te maak.

Dit sal hulle, ons, wel loon om weer goed na Jesus se woorde hier te luister. Daar sal ook ’n opstanding wees, het Hy mos gesê. Die laaste woord behoort aan God, en die krag daaragter verdryf die laaste vyand én al ons ergste vrese.

U het opgestaan, Here Jesus. Help my tog ook orent, asseblief.

Barend Vos

 


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: