Lees Psalm 114.
Bewe, aarde, as die Here verskyn, as die God van Jakob verskyn (v 7).
Hoe uitbundig, Here, is die dankbaarheid
van hulle wat deur U bevry is!
Hoe meer hulle daaroor praat, hoe triomfanteliker
word die taal en hoe opwindender die metafore.
Hoor dan net: die see wat sien en vlug;
die ikoniese rivier wat terugdeins;
die berge wat bokspring. En uiteindelik
dié opdrag aan die aarde: Bewe! Krimp ineen!
Veelseggend, Here, is die vreugde
van die verlostes – die guitige kaperjolle
van hul gedagtes, die beeldspraak
wat so bollemakiesie slaan.
Hoe anders, dink ek nou, hóé anders kan daar aan U
lof gebring word as in die oortreffende trap?
Met watter ander woorde as dié van oordrywing
word u weergalose ingryping na behore beskryf?
Dit was mos nog altyd so, Here, van ons kleintyd af:
Wanneer woorde ontbreek en feitekennis ons in die steek laat
en maatjies ons nie meer kan help nie, dan verlaat ons
ons op verbeelding en speel ons eie spel met die kennis en insig
en vreugde wat ons tot dan bemeester en tot ons beskikking het.
En wat ons voor oë kry, help ons om prentjies te maak
en idees te vorm en uiteindelik voorlopige woorde te vind
om te sê: “Hoe ontsagwekkend is die Here!”
Daarom kry ek hulle so jammer wat toegespin sit
in vaste formules en dodelike dogma en klaarblyklik
magteloos is om daaraan te ontsnap. Diegene wat bloot
akademies aan U dink en slegs plegstatig oor U kan praat.
Dankie vir my vrye gedagtes, Here!
Hou U dit asseblief in toom
met leisels van liefde
en ’n harnas van ontsag.
Amen.
Barend Vos