Vyf vroue

Lees Numeri 27:1-11.

Die dogters van Selofgad het na Moses toe gekom (v 1).

Dit moes sekerlik moed van hulle gevra het, dié vyf vroue uit die Manassestam. Want dit is eenvoudig nooit gedoen nie. Verbeel jou: vroue wat hulle by die leier aanmeld. Boonop eise stel. Só: “Gee vir ons grond” (v 4).

Sien, Selofgad het nie seuns gehad nie. Nou is hy dood, en volgens die destydse tradisie was hierdie vroulike nakomelinge op niks geregtig nie. Wanneer Moses die grond in die beloofde land uitdeel, is dit vir die manne en die seuns. En as daar slegs dogters in die familie is, soos hier? Dan is dit nou maar jammer vir hulle …

Dit is hierteen dat die dogters in verset kom – “voor Moses en die priester Eleasar en voor die leiers en die hele gemeente” (v 2). Nie skroomvallig nie, nie met allerlei kniebuigings en verskonings en askies-dat-ons-lewe nie. Pront. Voor almal. Gee ons wat ons toekom, ons is nie tweedeklasmense nie.

En Moses, sê die skrywer van die verhaal, het dié saak voor die Here gebring.

En die Here? Hy is wat Hy is en Hy doen wat Hy doen. En Hy sê vir Moses: “Jy moet beslis vir hulle hulle eie grond … gee” (v 7). Hierdie klein insident kan natuurlik ’n hele reeks gesprekke stimuleer: oor vroue en hul regte, oor dapperheid, oor die rol van grond in ’n gemeenskap. Vanselfsprekend ook oor leierskap – staatkundig én godsdienstig. En, natuurlik, oor God.

Altyd oor Hom. En wanneer ons met mekaar oor Hom praat, moet ons tog nie té seker van ons saak wees nie. Sodat ons gereed is om verras te word deur sy denke, juis ook in kwessies waaroor ons nooit onbevange dink nie.

U gedagtes is nie ons gedagtes nie, Here. Vorm ons en maak ons net soos U dit goeddink.

Barend Vos