Wat mense wil hê

Lees Markus 8:31-38.

“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg …” (v 34).

Petrus reken dat Jesus se lydensweg totaal onnodig is. Jesus maak hom stil en noem hom selfs “Satan” (v 33), die een wat net sê wat mense wil hoor.

Jesus stippel die gevolge van sy lydensweg uit en spesifiek hoe dit hulle, sy volgelinge, sal raak. Die tyd vir glans en gewildheid is nou verby. Hiervandaan is dit die hele pad afdraand, Jerusalem toe, Golgota toe. Dié wat op hierdie pad agter Hom wil aankom, moet weet hulle sal ’n kruis dra.

Dit is klaarblyklik nie wat Petrus en sy makkers wou hoor nie. Hulle volg Hom dan op ’n triomftog: Hy genees siekes; Hy doen wonderwerke; Hy trap die hoogheiliges uit; Hy vertel die vreemd­ste stories oor God se koninkryk. Nou kom Hy met ’n storie oor lyding, oor verwerping, oor doodgaan. Hulle wil dit nie hê nie. Hierdie verhaal kan tog nie só verloop nie!

Maar dit sou. En die meeste volgelinge sou die pad te swaar vind. Hulle sou teleurgesteld omdraai. Terugkeer na hul ou, be­kende weë. Na veiligheid, voorspelbaarheid. Na stilbly en stilsit. Na die gedweë toekyk hoe Gods water maar oor Gods akker loop.

Nee, die pad agter Hom aan is heeltemal te steil. Die kruis is loodswaar. En selfverloëning? Hoekom? Ek is mos wat ek is.

Dit alles word vandag nog gesê en gedink. Wat mense van Jesus wil hê, is dikwels onversoenbaar met wat Hy van hulle wil hê. Hy het van die begin af gesê: “Volg My!” Dissipelskap, dus. Dit is wat Hy wil hê. Maar dan dié soort wat vir die meeste potensiële volgelinge te duur is.

Jesus, U gaan voor. Ons huiwer, weifel, op u spoor.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: