Wat sou Hy gedoen het?

Lees Markus 2:23–3:6.

Die Fariseërs sê toe vir Hom: “Kyk daar! Waarom doen hulle iets wat nie op die sabbatdag gedoen mag word nie?” (2:24).

Wette. Reëls en regulasies. Dit was die manier waarop die Joodse godsdiens in Jesus se tyd bedryf is.

Jesus, self ’n Jood, was daarmee goed bekend – met die gods­dienstige wette én met die mentaliteit daaragter. As gevolg van laasgenoemde sou Hy eersgenoemde uitdaag. Want die menta­liteit agter die streng toepassing van die godsdienswette het uit­eindelik weinig met God te doen gehad en veel meer met hulle, die toepassers daarvan. Met die mag wat hulle hierdeur uitgeoefen het, die reg wat hulle reken dit hulle gegee het om ander se lewe te beheer. En te versuur.

Reeds by hulle sien ons waarom mag so bitter gevaarlik is. Juis ook wanneer dit in godsdienstige mense, gelowiges, se hande beland. Mag is verslawend, mag vra altyd nóg. Uiteindelik is die gre­tige aangryp van mag die eerste trappie na korrupsie.

Dit was sonder twyfel in die Joodse godsdiens so. Daarom het die Fariseërs Jesus stip dopgehou. Nie oor die goeie dinge wat Hy gedoen en die weldade wat Hy bewys het nie, maar as gevolg van die godsdienswette wat Hy sogenaamd oortree het. Want dit het hulle, die maghebbers, se mag uitgedaag. Dit het hul gesag bevraagteken.

Dit is egter onafwendbaar Jesus se vraag aan alle hedendaagse kerklike maghebbers: Oor watter wet waak jy so getrou, en in wie se naam is jy so ontsteld as dit oortree word?

En: Hoekom vra jy nie wat Ek sou gedoen het nie?

Leer my, Heer, u regte weë. Wys die regte pad my aan. Rig my hart op U.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: