Wat van ’n kortpad na die dieper lewe?

Die woord van die Here het weer tot Jeremia gekom. Hy was toe nog ingeperk in die binneplaas van die paleiswag. So sê die Here, Hy wat die aarde gemaak en so gevorm het dat dit nie wankel nie, wie se Naam Here is: Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie (Jer 33:1-3).

Ek onthou dat ek in my matriekjaar eendag op die trein geklim het van die Oos-Rand na Pretoria, op soek na ’n geestelike boekwinkel. Ek wou my lewe regruk voordat ek teologie gaan swot by Tuks. Ek moes “uitgesorteer” daar aankom. Ek koop toe ’n sak vol boeke met mooi titels soos Die oorwinningslewe en Power through prayer. Opgewonde is ek huis toe met al die antwoorde in my hand.

Ywerig het ek in die volgende paar weke deur my wonderlike nuwe boeke gewerk. Die een het verduidelik dat ernstige gelowiges vroegoggend moet bid, verkieslik ’n uur op ’n slag. Dit was ’n groot uitdaging, want ek is ’n nagmens. Maar die instruksies was duidelik.

Toe begin ek vroegoggend bid. ’n Paar oggende het ek beter gevoel. Nee, ek het ietwat verhewe gevoel bo my vriende wat niks vir hulle geloof opoffer nie. Terwyl hulle slaap, is ek besig om aan die voorpunt van die stryd te bid. Maar toe verloor ek spoed. Die een oggend het ek die wekker doodgedruk en verder geslaap. Daardie dag by die skool was ellendig. Ek het gefaal. Die Here se hart was gebreek, het ek gedink. Die opkomende jong gebedsheld van die Oos-Rand het skaamteloos uitgeklok ná ’n paar oggende.

Al wat in my kop afgespeel het, was beelde van die slapende dissipels in Markus 14 terwyl Jesus in Getsemane alleen moes worstel. Die volgende oggend probeer ek toe weer. Ek kan nie onthou wat ek gebid het nie, maar ek was ten minste vroeg op my pos. En toe slaap ek kort daarna een oggend maar net weer verder … en weer … en weer. Toe hou ek maar op om vroeër op te staan. Dit het net nie vir my gewerk nie. My geestelike selfbeeld was op ’n laagtepunt. My droom om ’n tweede Andrew Murray te word wat herlewing afbid, was daarmee heen. Tot vandag toe onthou ek dit, en tot vandag toe bewonder ek steeds mense wat getrou elke oggend vroeg opstaan om te bid.

Ten minste het ek geleer gebed werk nie volgens ’n standaardresep nie. Daar is nie ’n “one size fits all”-gebedtegniek wat ons almal moet aanleer en wat bepaal dat almal vyfuur soggens moet bid nie. Gebede wat vroeg in die oggend gebid word, het nie meer krag as gebede wat agtuur in die aand gebid word nie.

Ek kan met die Here praat op enige tyd van die dag wanneer ek regtig stil kan word by Hom.

Here, dankie dat ek enige tyd van die dag tot U kan bid. Soms wens ek vir kitsresepte, ook in my verhouding met U. Ek is dankbaar dat ek, al is ek dalk soos Jeremia ingeperk in ballingskap, by U stil kan word en tot nuwe insigte kan kom. Amen.