Weerloos

Lees Psalm 109:1-5.

U is die God wat ek altyd loof, moet tog nie my gebede onverhoord laat nie! (v 1).

Hoe weerloos is ek wanneer ek bid, Here!
Kwesbaar soos ’n kwikkie wat opkyk-opkyk
water drink. Uitgelewer aan hoop en vrees.

Daar is mos diegene wat op die loer bly
vir ’n geskikte geleentheid om aan te val.
Hulle maak woorde bymekaar soos klippe
en wag op daardie onbewaakte oomblik.
Hulle versamel slim argumente soos spiese
en slyp dit skerp genoeg vir die doodsteek.

Die naakte naïwiteit van ’n bidder
is waarskynlik die aangewese tyd
om hom te bespring en by te kom.
Dán is hy so blootgestel soos nooit.

Daarom, Here, verlaat ek my by voorbaat op U:
Ek glo dat U hulle wat my wil leed aandoen, sal wegkeer.
Ek glo dat U dié verregaande vermetelheid veragtelik vind.
Ek glo dat U hulle sal stilmaak of ten minste u ore toedruk.
Ek glo dat U hulle harteloosheid sien, hul slinksheid haat.

Kyk dan na mý hart, Here; ondersoek my motiewe.
Vind in my binneste die opregtheid wat U vereis.
Sien tog die desperaatheid om gehoor te word,
en dat my pleitrede u ore onverswak bereik.
Daarom sal ek enige liggaamsposisie inneem
wat U verlang – staan, kniel, vorentoe leun …
Ek sal voor U gaan lê as dit u wens is.
Kyk, hier vou ek my hande voor my gesig.
My ken rus op my vingers, my oë is bot toe.

Van altyd, tot nou toe, waag ek dit
om ’n kindjie klein voor U te wees.
Weerloos, broos, oop en bloot;
prewelend, wagtend
op U.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: