Woestyntyd

Lees Markus 1:12-13.

Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in … (v 12).

Die triomfantelike belewenis by Jesus se doop word onmiddellik ge­volg deur veertig dae in die woestyn. Die gewaarwording van ’n oop hemel word summier gekompliseer deur die Satan se versoeking.

Só sou dit deur Jesus se hele aardse lewe wees – die hemel­se hoogtepunte word deur ellendige laagtepunte gevolg. Selfs sy dissipels doen die mooiste belydenisse, net om daarna op groot skaal droog te maak. Die skares roep “hosanna!”, maar wysig dit gou-gou na “kruisig hom!” (Luk 23:21; Joh 19:6).

Dankie tog vir die onverstoorbare ondersteuners: die engele wat in die woestyntyd ná sy doop na Hom omgesien het. Die vroue wat Hom deurentyd versorg het, wat ook hul emosionele onderskraging tot by die kruis volgehou het (Mark 15:41). Dit sou deur die eeue die patroon bly. Jesus se navolgers sou dit eerstehands beleef: die eb en vloed van dissipelskap, die groen weivelde én die donker dieptes, die bergtopbelewenisse én die woestyntye.

Dikwels volg dit kort ná mekaar. Die oorwinning se opwinding bruis nog deur jou are, dan klap die Bose se sweep op jou ontblote siel. Vra maar die ou profeet Elia: Sy hart juig nog ná die Baälprofete se vernedering, toe bevind hy hom in die woestyn onder ’n besem­bos, waar hy wens om dood te gaan. Dankie tog vir die engel wat vir hom roosterkoek en water bring, sodat hy weer kon opstaan (1 Kon 19).

Ja, dankie tog vir die versorgers. Vir hulle wat hul arms om jou sit en sê: Toemaar, ek is hier vir jou, ek sal jou nie alleen los nie. En goddank vir Hom wat hulle gestuur het, omdat Hy alles van woestyntye weet.

Here Jesus, U is uiteindelik selfs deur God verlaat, sodat ons elke ellende sal oorleef. Halleluja!

Barend Vos