Home » Januarie » Woordelose getuienis

Woordelose getuienis

Dit sal nie eens vir julle nodig wees om ’n woord te sê nie (1 Pet 3:2).

Dit is nie vir ons almal maklik om met groot welsprekendheid van Christus te getuig nie. Dis ook nie nodig nie. Hoor net wat sê Petrus vir die vroue wat met ongelowige mans getroud is: “As … die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om ’n woord te sê nie” (1 Pet 3:1-2). Die omgekeerde geld natuurlik ook.

’n Aangrypende voorbeeld van so ’n woordelose getuienis is dié van die Koreaanse man wat melaatsheid in die ergste graad opgedoen en in ’n Amerikaanse sendinghospitaal opgeneem is. Sy siekte het hom op ’n afgryslike manier aangetas: Hy was verlam; hy kon nie hoor nie; hy kon nie sien nie. Hy het geen vingers aan sy hande en geen tone aan sy voete meer gehad nie. Hy kon nie praat nie, want hy het geen tong, geen tande, geen lippe meer gehad nie. So het hy daar gelê: verlam, doof, stom, blind. Maar daar was nog drie dinge wat hy kon doen: Hy kon aanvoel as iemand in sy kamer inkom weens die trilling van die voetstappe op die vloer. Hy kon sy vingerlose hand nog effens oplig. En hy kon nog onverstaanbare hyggeluide maak.

Die volgende toneel het dikwels daar in daardie dodekamer afgespeel: Elke keer wanneer iemand daar ingekom het, het die melaatse dit aangevoel en sy vingerlose hand opgetel en heengewys na die houtkruis bokant sy bed, weggewys van homself … na sy Verlosser, Christus die Here. Dan het die sterwende melaatse geglimlag, ’n tandlose, liplose glimlag, en opgewonde hyggeluide gemaak.

Niemand wat hom gesien het, het getwyfel aan die krag van sy getuienis nie.

Om goed te kan praat, is nie ’n noodsaaklike vereiste om te kan getuig nie.

Here, heIp my om na U te wys. Al het ek nie vingers nie. Amen.

Johan Cilliers